Blog
Featured 

Selfde-geslagverhoudinge - debat of oordeel?

Selfde-geslagverhoudinge - debat of oordeel?

Die eeue oue probleem van selfde-geslagverhoudinge is sterk onder die vergrootglas en word tans debatteer in baie kerke. Sommige is in angs daaroor - ander wil dit in jou keel afdruk - ander druk hul koppe in die sand.

Eg aan ons agtergrond dink baie van ons dat "debatteer" beteken ons moet oordonder en beveg totdat ons eie mening/oortuiging aanvaar is. Ons wil liewer sê as hoor. Almal gryp terug na die Bybel, maar aan die einde is die "bewyse" so verskillend/opponerend dat jy wonder watter bybel gebruik is?

     Wat behoort ons te doen? Neem deel aan die debat of luister ten minste totdat ons gemaklik is met mekaar en die antwoord, of ooreenkom om in liefde te verskil!

     Hoe behoort ons dit te doen? Met verdraagsaamheid, geduld, empatie, selfs simpatie en al die ander woorde wat ons sal help om mekaar beter te hoor/verstaan.

     Is dit maklik? Ja en Nee.

          Ja, want ons het liefdes- en gespreksriglyne wat die Bybel ons bied.

          Nee, want hoe ons groot geword het en wat ons ouers en/of gemeenskap ons geleer het, speel 'n baie belangrike rol in hoe ons gaan reageer. Verder kan jy maklik as             ketter afgemaak word as jy luister en saam debatteer.

My eie soektog na die waarheid het begin toe ek 'n klompie jare terug deur 'n lidmaat versoek is om te kom help met huwelikspastoraat, net om te ontdek dat dit 'n selfde-geslag paartjie was wat desperaat hulp in hul verhouding nodig gehad het - Christene en kerkmense. Al my ongemak en vooroordele moes opsy geskuif word toe ek die nood in die oë voor my sien. Later ontdek ek dat verskeie gemeente-ouers hul gay kinders "wegsteek". Watter raad gee mens die ouers met hul "smart" en wat maak mens met die kinders wat gay is? Die take en navorsing wat ek op universiteit moes doen help my nou niks. Ek moet bieg my hulp was maar swak en moontlik halfhartig omdat ek self onseker was oor wat die Bybel sê en veral wat mense sal sê. Wanneer verruil mens dit wat jy dink die waarheid is vir menslikheid? Terugskouend lyk die teen-die-grein besluite wat Jesus neem, bv. iemand op die Heilige Sabbat gesond te maak, so maklik vandag, maar die werklikheid is anders! En dan verskil die Teoloë waarna jy opkyk boonop dramaties en soms hewig oor hierdie saak.

Ek wil jou nooi om hier op Dominee.org.za die debat oor selfde-geslagverhoudinge uniek te maak. Uniek - omdat ons die Waarheid soek. Uniek – omdat ons die Bybel as basis wil gebruik. Uniek - omdat ons na mekaar moet luister totdat ons mekaar verstaan. Uniek - want die kerk verwag dat veral haar dominees die voorbeeld sal stel.Uniek - want daar is mense wat uit die kerk en gemeenskap van die gelowiges gestoot word en die kerk is hulle 'n antwoord skuldig!

Iewers moet ek/ons moed kry en self verantwoording doen deur na die waarheid te soek.

Miskien voel jy soos ek?

Begin die debat (soektog) saam met my, 'n gewone dominee wat verstrengel geraak het tussen mens se nood en behoeftes en wat die Skrif ons in ons eie tyd en wêreld lei. Kom ons gesels dan hier en kyk of die Waarheid regtig so diep weggebêre is? Jy is welkom om skakels na ander werwe te maak en selfs jou eie dokumente/ navorsingstukke te laai.

 

Registreer of teken in om te publiseer en/of kommentaar te lewer en nuus te ontvang

Nog nie 'n lid nie? Registreer

Werf Statistiek

  • Total Members 1313
  • Total Groups 5
  • Total Discussions 0
  • Total Albums 59
  • Total Photos 10
  • Total Videos 0
  • Total Bulletins 0
  • Total Activities 25
  • Total Wall Posts 0
  • Total Events 0

Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za

Google+