Dirk C Lourens - Dominee.org.za - Die Woord vir Almal!
Dirk C Lourens

Dirk C Lourens

Gelukkig getroud, twee wonderlike besige jong volwasse kinders, gekreukel, grys en dikkerig maar geniet die lewe en die kanse wat God my gee soos nog nooit tevore!
Sondag, 10 Januarie 2016 16:07

Woorde soos heuning

Skuifie 1: Dikwels vertoon die Kerk eerder haat as liefde

Inleiding
Ek het in ‘n huis grootgeword waar dinge reguit gesê is. As iets goed was, dan was dit goed, as dit sleg was, is dit so gesê. Doekies omdraai nie en mooi woorde was maar beperk. Ek het groot geword asof dit die Afrikaanse of Boere manier van doen is -dit was ons kultuur. Ja, selfs in die kerk. Hoe anders? Ons kultuur en kerk was nou ineengestrengel. Ek onthou hoe ons geleer was dat ander kerke wat nie soos ons is en dink nie verkeerd of ketters was en vermy moet word. Pa het geleer dat jy jou buurman beskerm van die sektes deur hulle kwaad te maak en te verjaag. Dit neem hulle 'n ruk om tot verhaal te kom en weer te ontspan en ‘n buurman na die verderf lei...

Openinge van vergaderings soos hierdie word al hoe minder omdat dit ongewild en/of selfs “onwettig” is in ‘n demokratiese Suid-Afrika. Godsdiensperiodes as sodanig is reeds lankal deel van die verlede en word hoofsaaklik in ‘n paar christen-privaatskole aangebied.

‘n Tyd terug oor die radio gehoor dat 70% van tieners kerklik onaktief is. Ek het gewonder wie se skuld dit mag wees? Die politiek? Die regering? Die kerk? Ek dink nie een van hulle behoort die hoof blaam te dra nie.

Ek wil beweer dat as 70% van kinders onaktief is omdat ongeveer 70% ouers ook kerklik onaktief is…


Vanaand wil ek ‘n beroep op ouers uit Deuteronomium 6:4-9 doen. Hier word vertel hoe jou verhouding met God oorgedra word aan jou kinders.

Lees Deut.6:4-9

Dit begin by die ouer se geloof  ín of verhouding mét God. Ouers praat nie en leer nie van God as Hy nie vir hulleself betekenis het nie.
Die ouers wat egter ‘n lewende verhouding met God het – Deuteronomium sê “die word van God is gedurig in hul harte en gedagtes”,  en daarom sal hulle dit met hul kinders deel.

Hoe?
In Deut.6 vind ons vier werkwoorde wat ouers vanaand moet aangryp.
1.       Inskerp. Jy moet liefde vír en kennis óór God by jou kinders inskerp of ingraveer deur jou as ouer se voorbeeld en gehoorsaamheid aan God.
2.       Praat. Jy moet elke geleentheid aangryp - in die huis, kar, voor slaaptyd en soggens met jou kinders oor jou verhouding met God praat en dit verduidelik.
3.       Bind. Dit moet só deel word van julle lewenswyse soos iemand wat ‘n strikkie om sy vinger bind as teken daarvan dat jy iets belangriks wil onthou en doen. Dit moet so sigbaar wees soos ‘n merk op jou voorkop.
4.       Skryf. Dit moet sigbaar geskryf wees in jou huis dat julle God dien. Behalwe vir die Bybel, verse, prente en simbole wat die huis vol moet wees, sal ouers se dade die beste manier van “skryf” in die kinders  se lewens wees.


Liewe ouers. Die skool en staat is kan weinig meer as informasie  oor God bied. Hierdie informasie sal tussen al die ander informasie wat die skool hulle mag verdwyn tensy daar reeds ‘n grondslag by die huis gelê is en dit uitgebrei word deur jul kerklike betrokkenheid!


As ouers speel ons die grootste rol in ons kinders se verhouding met God. Daarom daag ek julle as ouers vanaand om self eers julle verhouding met God reg te stel en Hom dan baie sigbaar lief te hê. Jou kinders se ewigheid (met God) is hiervan afhanklik!

 Gebed: Here, my kind en my kind se ewige lewe saam met U is afhanklik van my verhouding met U. Vergewe my vir my laksheid en liefdeloosheid vir U. Ek onderneem om U van nou af eerste in my en my kinders se lewens te stel. Amen.

Saterdag, 04 April 2015 23:28

My mes is tog groter as jou mes!

Paulus skryf hier aan die gemeente in Korinte omdat hulle liefdeloos teenoor mekaar begin optree het.

Ek glo nie die Korintiers-gemeente het moedswillig liefdeloos opgetree nie, net te veel klem begin lê op die gawes en wie wat daarmee kon doen. Onbewustelik het hulle  liefdeloos teenoor mekaar begin optree. Hulle meen hulle bewys groot liefde aan mekaar maar helaas daar heers onenigheid en afguns – hulle vergelyk mekaar se gawes en raak hoogmoedig daaroor.

Vertoon video Clip van Crocodile Dundee     (laai dit hier af: http://www.youtube.com/watch?v=01NHcTM5IA4)

Ek dink die meeste van julle het hierdie toneel herken. Ja, dit kom uit die fliek “Crocodile Dundee” en dit handel oor die plasie uit Australie wat vir die eerste keer die groot stad New York City besoek.
Hy en ‘n joernalis word voorgekeer deur ‘n rowerbende. Dundee reageer nie dadelik en oorhandig sy beursie soos die rowers beveel het nie maar steek doodluiters sy hand agter sy rug in toe een van die bendelede sy mes uitpluk. Doodluiters haal Dundee sy eie groot mes uit terwyl hy die reeds bekende woorde doodkalm uiter: “That’s not a knife,” “This is a knife!”
Daarvoor het die rowers nie kans gesien nie en op die vlug geslaan.
 
In Afrikaans sou Dundee waarskynlik gese het “Dit is nie ‘n mes nie, Dít is ‘n mes!” of nog beter “My mes is tog groter as jou mes!”
 
Die toneel laat my altyd dink aan hoe dit in baie van ons huise gaan. Van kleins af leer kinders om teen mekaar mee te ding oor wie die moeiste of die grootste of die lekkerste speelding het. Dit veroorsaak dat ons ons lewe lank met mense meeding – of dit nou die gesin, ander familie, of my vriende of bure of by die werk is! 
 
Dit maak dit  net al hoe moeiliker om ander mense eerste te stel soos God dit van ons verwag. Dit raak al hoe moeiliker om lief te hê!

Die meeste van ons leef vandag met ‘n mentaliteit van “My mes is tog groter as jou mes!”
 
Wanneer ek na Paulus lewe en optrede kyk dan sien en hoor ek vir Crocodile Dundee, behalwe dat Paulus sou se “Julle dink julle het ware liefde, maar ek sal julle wys hoe ware liefde eintlik lyk!”
In 1 Kor.13 verduidelik Paulus hoe ware liefde lyk. 
 
As huis van God – dit is die gemeente en ons huisgesinne moet ons vandag mooi luister wat God se verwagting is hoe ons Sy liefde aan die wêreld moet demonstreer.
 
Kom ons gesels net eers oor die vraag “Waarom liefde so belangrik is?”

  1. Lev.19:17-18 en Mat.19:19 sê dat die hele Wet en Profete opgesom word deur die woord “liefde”.
  2. Rom.13:9 sê dat liefde die Christen se lewensverantwoordelikheid is.
  3. Gal.5:22 ev; 1Pet.1:5-7 en Kol.3.12-14 verduidelik dat liefde die dryfveer is van alle goeie gawes.
  4. Volgens Joh.13:35 is liefde die uitstaande kenmerk van ‘n Christen.
  5. Liefde is die verhoudingsgom tussen mense.
  6. Die grootste rede kry ons in Joh.3:16 vir ons – God het ons uit liefde geskep en ons uit liefde gered!  “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Liefde begin met ‘n reaksie op God se liefde vir jou. Sy liefde vir jou is die motivering om ander life te hê. 

·        Paulus lê soveel klem op liefde – kom ons ondersoek sy konsep van liefde. Wat dink Paulus, is liefde? Hoe moet die huis van God lyk waar liefde heers?
Hy stel hul probleem dadelik aan die orde en verduidelik dat al die gawes waarmee hulle so besig is en spog niks is en niks help as dit nie uit en in liefde beoefen word nie.

Paulus gebruik wel die woord  “agapao” wat tradisioneel die woord vir Goddelike liefde. Tog besluit hy om nie 'n defenisie van liefde te probeer gee nie maar om eerder te verwys na daaglikse optredes van mense om te wys hoe dit sal lyk waar daar wel liefde is en hoe dit sal lyk en klink waar daar nie liefde is nie. Liefde sal spesifieke uitkomste en effek op mense hê wat duidelik sigbaar sal wees - want liefde is ‘n bepaalde mentaliteit of lewenswyse.

Waar liefde heers sal die effek daarvan ‘n langtermyn of selfs ‘n blywende invloed hê – dit sal gawes, geloof en hoop oorleef!

·  Paulus verduidelik liefde so:
Kom ons kyk na verse 4-7. 4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6 Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 
Eerstens gee hy twee eienskappe van wat liefde is en daarna agt optredes wat beslis nie liefde kan wees nie. 
 
·        Die twee ware eienskappe van liefde is:

  1. Geduld. Die ou vertaling sê “lankmoedig” – ek dink dit is ‘n beter vertaling. Dit sê meer wat die grondteks bedoel het.

Eks.34:6,7  “6 Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7 Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.
 
Die woord “lankmoedig” bevat twee konsepte wat belangrik is vir die verstaan van liefde – “lank” en “moed”.
 
Lank. Het te doen met selfbeheer tydens provokasie en konfrontasie. Dit is om nie te vinnig te verdedig of aan te val nie. Dit is die teen0orgestelde uitkoms as wat woede het. Jy bly bewus van God se lankmoedige genade vir jou en jy reageer dieselfde.
 
Moed. Liefde gee nie toe aan moedeloos en swaarkry nie. Dit onderskei tussen mense en omstandighede. Mense moet onder alle omstandighede met liefde behandel word.
Soms sal dit nodig wees om “Tough Love”  te beoefen. Dit beteken dat jy sterk genoeg sal wees om mense reg te hanteer en reg te help al benadeel hulle jou!
As “Geduld” die passiewe kant van liefde is, dan is die volgende eienskap “vriendelikheid” die aktiewe kant van liefde.
 
2. Vriendelikheid. Weerens gaan ek ‘n ander woord leen om hierdie eiensakp te verduidelik. Die Englese Bybels vertaal “vriendelikheid” met “Kind”. Om “kind” te wees is om “goedhartig te wees”.
“Goedhartig” bestaan ook uit 2 konsepte, nl. “Goed” en “Hart”.
 
Goed. Is om die beste vir mense aan te bied. Dit wat hulle nodig het en wat hulle sal opbou.
 
Hart. Het met gesindheid te doen. Dis is om werklik besorg te wees en om te gee. 
Goeie intensies doen die ding nie –  goeie dade alleen bevestig dat jy liefhet!
Dit beteken dat ons  aktief op die uitkyk moet wees vir nood in die mense rondom ons en wanneer ons dit opmerk, spring ons in en help. Dink aan die Barmhartige Samaritaan. 
 
Luk.6:35 en 36 Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. 36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” 
 
Goedhartigheid of vriendelikheid word verwag en beoefen teenoor vriend en vyand! Doen dit met deernis en sagtheid en jou gesin, vriende en vyande se harte sal oopgaan vir jou en jou getuienis!
 
·  Paulus gaan nou voort en verduidelik vir die Korintiers en ons hoe liefde nie lyk nie. Hy gee agt voorbeelde:

1. Afgunstig / jaloesie
Soek sy eie belang of welvaart ten koste van ander.
Wil nie opoffer/swaarkry vir ander nie. “Ek het te hard gewerk vir wat ek bymekaar gemaak het.”
Kan dit nie verdra dat ander meer of beter as jy het nie. Dit maak jou seer omdat jy nie kan hê wat ander het nie…
 
2. Grootpraterig / arogant
Afgunstigheid is my sondige reaksie op die wêreld se welvaart. Grootpraat is my sondige reaksie op my eie welvaart! “My mes is to groter as jou mes, whê!”
Dit verdryf nederigheid en sagtheid – deernis.
Dit is baie nou verwand aan die volgende voorbeeld.
 
3. Verwaand
Dit dink jy is beter as ander. Jy dink jy is die kat se snor.
Dit vernietig al die goeie wat jou gawes en talente kon bereik het, as dit in liefde gedoen was.
 
4. Onwelvoeglik
Die Engelse bybels vertaal “onwelvoeglik” met “behaving badly”. 
Vb. Tou by bank – hoor nie wat jy wil hê nie – reageer sleg teenoor amptenaar…
Ouers veral fouteer wanneer hulle nie hul kinders se swak dissipline en verkeerde gewoontes van kleins af aanspreek nie, net om die vrede te bewaar.
Huweliksmaats verwag soms dat hul maat hulle swak maniere en houding moet aanvaar. 
Paulus sê dat liefde beteken dat jy jou moet gedra!
 
5. Eie belang / selfsug
Liefde is gerig op die mense om my. Of hulle nou vriend of vyand is – ek wil die beste vir hulle hê en doen!
God het gekies dat Christene hul liefde vir Hom verklaar deur hul optrede teenoor ander mense.
As jy God eerste stel, dan kan jy nie anders as om die mense om jou se belang voor jou eie te stel nie!
 
6. Liggeraak
Liggeraaktheid is die stimulasie wat onreg nodig het om te gebeur. Is om “online” te wees vir moeilikheid.


Paulus waarsku teen kort humeure – dit vernietig alle goeie intensies en goeie werke.
Liefde soek nie strooihalmpies om kwaad te doen of aan te val en seer te maak nie.
Daar is goeie chemiese hulp en gedragsoefeninge om jou hiermee te help as jy werklik ‘n afwyking het.
 
7. Hou boek van kwaad
Liefde krop nie op en ontplof op ‘n dag nie. As jy opkrop dan is jy eintlik besig om boek te hou van die kwaad.
Dit blaas nie ‘n “gascet” omdat jou kind of ouer nou al die hoeveelste keer iets teen jou verkeerd gedoen het nie.
Bitterheid is die vlagskip van boekhou van die kwaad!
 
Dit lyk of veral Christene fotografiese geheues het as dit by ander mense se sondes kom.


Jy verwag genade van God – dat Hy nie al jou sondes sal opskryf en teen jou hou nie – betoon dan genade aan almal! 

8. Verbly oor onreg
Van die snaakste grappies is altyd die wat mense wat anders as jy is en lyk afkraak. 
Elke keer wanneer ons so ‘n grappie luister of selfs vertel, is ons besig om onreg te bevorder.


Net so vernietig skinderpraatjies jou eie verhouding en dikwels ook ander se verhoudings. 
  
·        Paulus, hoe moet ons dan liefhê? 
In verse 6 en 7 gee Paulus die antwoord.  

Verheug jou oor die waarheid. Juig oor die waarheid.
Dit beteken ons moet werklik soek na dit wat mense om ons beter mense sal maak - hulle vry sal maak!
Ons moet ook so met die waarheid omgaan dat dit vir ander mense ook na die waarheid lyk en nie net vir ons nie.
Vind uit wat mense waardeer en help hulle dan om God te plesier – want dit is wat verheug jou in die waarheid eindelik beteken.
Mense moet God as Waarheid raaksien in jou dade!
 
Wil jy God as Waarheid in jou lewe en rondom jou hê? Maak dan die volgende verse jou lewensdoelwit.


Fil.4:8-9  “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.  En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.”
 
Lees ten slotte weer die teks: 1 Kor.13 (Die Bybel vir Almal)
1 Miskien sal ek die tale van mense en van engele kan praat, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan is ek soos ’n klok of soos ’n simbaal wat net raas. 
2 Miskien sal ek God se boodskap kan bring, en al die geheime kan ken, en alles kan weet. Miskien sal ek so sterk kan glo dat ek berge kan wegskuif, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan beteken ek niks. 
3 Miskien sal ek al my goed kan weggee, en miskien sal ek myself kan gee sodat mense my slaan en seermaak, en sal ek daaroor spog, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan help dit my niks. 
4 Iemand wat lief is vir God en vir ander mense, is geduldig en vriendelik, hy is nie jaloers nie, hy spog nie, hy is nie hoogmoedig nie, 5 hy doen nie lelike dinge nie, hy is nie selfsugtig nie, hy word nie gou kwaad nie, hy onthou nie vir altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie, 6 hy is nie bly wanneer mense verkeerde dinge doen aan ander mense nie, hy is baie bly wanneer mense die waarheid praat. 
7 Hy word nooit moedeloos nie, hy hou aan om te glo en te hoop, hy bly geduldig. 
8 Hy hou nie op om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Daar is genadegawes wat sal ophou: Om God se boodskap te bring, sal ophou. Om in tale te praat, sal ophou. Om baie dinge te weet, sal stop. 
9 Want ons weet net ’n bietjie, en ons bring net ’n bietjie van God se boodskap. 
10 Maar eendag, wanneer alles is soos God dit wil hê, dan sal die dinge wat ons nou ken en het, nie meer nodig wees nie. 
11 Toe ek ’n kind was, het ek dinge gesê soos ’n kind dit sê, ek het gedink soos ’n kind, en ek het oor die lewe gepraat soos ’n kind. Maar toe ek ’n grootmens geword het, het ek die dinge van ’n kind gelos. 
12 In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in ’n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien, soos wanneer ’n mens voor iemand staan en jy kan sy gesig goed sien. Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet. 
13 Daar is net drie dinge wat regtig belangrik is, en dit is: om aan te hou glo, om aan te hou hoop, en om lief te wees vir God en vir ander mense. Maar die belangrikste is om lief te wees vir God en vir ander mense. 
 
Die eerste Pinkster
Met die eerste Pinkster het die Gees van God die apostels en omstanders gevul en hul lewens verander.


Die Gees het hulle aangevuur om liefde te betoon waar hulle kom. Handelinge vertel ons hoe die eerste gemeente eensgesind alles met mekaar gedeel het. Dit was in liefde gedoen.


Wanneer ons vandag die Nagmaal gebruik en Pinkster vier, laat toe dat die Gees jou vandag verander en beweeg om liefde vir God se mense jou prioriteit te maak en ten alle koste na te streef.


Kom ons wys die wêreld dat God se liefde groter as enige swaarkry of sonde is en dat Hy hulle kan vrymaak daarvan.


Ongelukkig kan jy dit nie doen voordat jy self eers aanvaar dat God jou lief het nie en al jou sondes en veral liefdeloosheid vergewe nie.


Gebruik die volgende oomblikke om sy liefde te gryp en onderneem om God te wys hoe lief jy Hom het deur liefde teenoor vriend en vyand te bewys!

Saterdag, 04 April 2015 23:24

Hoe moet ek régtig glo?

Jeremia tree op 100 jaar na Jesaja. Gebore uit ‘n priesterlike gesin in Anatot en in 627 v.C. geroep as profeet van God. 40 jaar lank tydens die regerings van Juda se laaste vyf konings waarsku Jeremia hulle teen die komende rampspoed en doen hy ‘n beroep op die volk om hulle te bekeer. Na die dood van die godvresende koning Josia in 609 v.C. vererger die politieke toestande en Juda is vasgevang tussen die twee strydende wêreldmoonthede: Babilon in die noorde en in die suide Egipte. Jeremia probeer tevergeefs die koning oorhaal om hom by Babilon te skaar. Nebukadneser (Babilon) oorwin Egipte en in 587 val hy Jerusalem binne en verwoes die tempel en stad en voer die volk weg in ballingskap.

Jeremia die uitgeworpene
Jeremia is uit die priestergeslag van Anatot. Die priesters van Anatot is die nageslag van Abjatar wat deur Koning Salomo verban is nadat hulle saamgesweer het met Adonia om in sy plek koning te word.

Jeremia het ‘n moeilike taak gehad – hy is uit ‘n familie wat verban is, sonder aansien en regte, maar die Here vind dit goed om hom te roep om by die koning te gaan profeteer.

Die Here roep Jeremia om teen die volk en koning te profeteer. Hulle het in sonde geval en leef ver van die Here. Verder moet hy die koning aanraai om liewer saam te span met Babilonie ipv Egipte – en dit was nie ‘n gewilde boodskap by die koning ne.

Die gevolg is dat Jeremia se eie familie hom om die lewe wil bring. Hulle is bang as hy die koning kwaad maak dat hulle finaal vernietig en doodgemaak sou word. Hulle probeer Jeremia dus doodmaak voordat hy die lewe vir hulle kan moeilik maak…

Jeremia kla by die Here
Nou kla Jeremia by die Here.
* Waarom is die goddelose mense – die wat sy lewe soek – so voorspoedig?
* Waarom is die ontrou mense se lewens so rustig?

Kom ons verander sy vrae in gewone Afrikaans.
Here, waarom gaan dit goed met die goddelose mense maar met MY, U kind, gaan dit so sleg? Waarom kan ek nie ook so rustig leef, sonder kommer en vrees soos hulle nie?
Here waarom is die gras aan die anderkant van die draad altyd groener?

Ek dink as daar ooit iemand is wat rede gehad het om sulke vrae te vrae was dit Jeremia. Hy leef vir die Here en wil net goed doen, maar die Here verwag moeilke en lewensgevaarlike werk van hom…

Die Here antwoord Jeremia
In Jer.12:5 antwoord die Here vir Jeremia.
In gewone taal beteken die versie niks goed vir Jeremia nie. Die Here spot amper met Jeremia. As hy nou al kla oor die taak wat die Here hom opgelê het, wat gaan hy doen wanneer die Here meer en moeiliker en gevaarliker take verwag?
* Jeremia, dit sal nog erger word – jy loop met voetsoldate en kla oor die onreg, maar jy gaan nog hardloop dat jou tong uithang!
* Jy kla oor jy onveilig voel maar Ek gaan jou nog stuur na die pronkbosse van die Jordaan, daar waar dit rof en gevaarlik is en die rowers en wilde diere bly. Die doringbosse sal maak dat jy nie kan wegvlug nie…


* Jy skrik vir jou familie wat jou wil doodmaak, maar daar gaan nog baie wees wat jou lewe sal soek…
Op die oog af lyk dit of die Here nie baie simpate en vertroosting vir Jeremia het nie. Ons verwag dat Hy eers vir Jeremia sou paai en bemoedig met beloftes dat dit môre beter sal gaan, maar dit gebeur nie. Intendeel, dit kom voor of die Here spot met sy vrees en vertel hom dat dit wat hy nou beleef niks is met wat voorlê nie.

Kom ons kyk ‘n bietjie dieper na hierdie raaiselagtige antwoord van die Here! Is daar nie dalk ‘n dieper betekenis nie?
Hoekom spot die Here met Jeremia? Want Jeremia sien net hierdie gevaar en oormag en onreg teen hom raak maar sien nie die eintlike gevaar en oormag raak nie…

Dit is so dat hier ‘n ongelyke stryd aan die gang is, maar nie soos Jeremia dink nie…

Vir voetsoldate om ten perderuiter-soldate te veg is eintlik onmoontlik. Dit is soos om teen ‘n oorlogstank te probeer veg. Die stryd is duidelik ongelyk. Dit is soos dit vir Jeremia… en dikwels vir ons voel…

Maar die Here probeer eintlik vir Jeremia wys op ‘n ander ongelyke stryd…
Wie is groter as die soldaat te perd.. of groter en sterker as die tank?
Ja, God, die Almagtige! Geen mens, oorlogsmiddel, land volk of koning kan iets aan Hóm doen nie. God is overgelykbaar groter as die skepping en skepsels.
DIT is die eintlike ongelyke stryd wat Jeremia behoort raak te sien…


Nie sy eie lot teen die gevare en take wat hy moet trotseer nie, maar wel die gevaar vir dié wat God teenstaan en rustig leef asof Hy geen mag het nie, en wie God se kinders laat swaarkry.


Daar is genoeg ander bewyse in die Bybel om vir ons te sê dat die Here wel sal oordeel oor die goddelose en dat ons moed moet hou!

Wat is ware geloof?
In Hebreers 11:1 word vir ons vertel wat geloof is. Jeremia moes dit met sy eie lewe beleef wat ware geloof is.
Dit is nie om te glo dat alles môre beter sal gaan nie.
Dit is om te glo dat God groter en magtiger is as enige-iets wat op my pad lê.
Geloof in God is dus nie om te hoop dit sal môre beter gaan nie, maar om in die gevaar gehoorsaam aan God te bly, al verstaan ek nie, ek moet leef en doen soos Hý verwag! Waar ons in opdrag van God leef, daar sal Hy met ons wees met sy groot Almag! Al sien die wêreld dit nie raak nie.


Die Here het nie vir Jeremia probeer verduidelik en paai nie, Hy het net gehoorsaamheid van Hom verwag…

Jeremia, hou op kla en leef die lewe wat God van jou verwag – Hy is met jou!

Ja, die lewensstryd is ongelyk.. wie kan ten God opstaan en dit oorleef?

Hoe lyk jou geloof?
Ons kla so dikwels oor ons lot en sou graag beter wou hê. Maar vergeet gerieflik wat God beleef wanneer sy skepsels in opstand teen Hom kom, soos sy eie volk Juda wat nie wou luister nie en saam met Egipte gespan het en gevolglik hul vryheid en tempel en land verloor het en beheer is deur die heidense Babiloniese volk.

Wat nog erger is as ons besef dat God hulle probeer warsku het deur Jeremia en deur baie ander profete – maar hulle wou nie hoor nie en moes die gevolge dra.

Hoe behoort my geloof te lyk? Ek moet die dieper waarheid en prentjie raaksien. Daar buite s ‘n goddelose en rustige wêreld wat onder die oordeel van God staan en as ek en jy as kinders an die Here nie soos ‘n Jeremia ons deel begin doen en gehoorsaam aan God is, soos Matteus 28:18,19 ons vertel om te doen nie, dan sal die wêreld geoordeel word en verlore gaan!

My gehoorsaamheid aan God wys die wêreld wat my keuse is! 
Daarom is jou en my gehoorsaamheid aan die Here, ten spyte van die swaarkry en onreg wat ons (dink) ons beleef, juis die teken wat die wêreld na smag!
Kinders van die Here wat hul geloof in God, die Almagtige, uitleef en demonstreer word ‘n hoop vir die wat andersins verlore sou gaan!

My gehoorsaamheid aan God demonstreer my geloof… Nee, demonstreer die Almagtige God!

Watter kant kies jy vandag? Om te kla teen die onreg en oorspoed van die goddelose en hulle toe te laat om verlore te gaan?
Of
Om die Here te dien en te gehoorsaam en te volg want ek weet dit sal die goddeloses help om gered te word – soos ek!

Saterdag, 04 April 2015 23:19

Hoe belangrik is Stiltetyd?

Wat dink julle van die volgende stelling?

Ek sukkel met my stiltetyd. Dis so moeilik om op te staan en Bybel te lees… Ek sukkel ook met ander dinge in my lewe, soos ooreet, woedebuie en pornografie. Ek bid vir selfdissipline – maar dit wil nie werk nie!

Mag ek vra hoeveel van julle met hierdie probleem spook?
Ja, ek het gedink dat baie hierdie probleem het.

Die antwoord op hierdie probleem is aan die een kant baie maklik en aan die ander kant baie moeilik. Die moeilike antwoord het te doen met ons gesindheid en die maklike antwoord te doen met ons optrede of lewensgewoontes.

Kom ons begin by die gesindheidsantwoord:
Hier gaan dit oor jou verstaan van heilig lewe voor God. Is dit jou lewensdoel om ‘n ‘n intieme verhouding met God te lewe?  ‘n Heilige lewe behels dat ek:
-   alles wat skeiding maak tussen my en God uit die weg sal ruim
-          gedurig sal wegdraai van sonde en ‘n voortdurende afsonder tot God
-          God alleen sal gehoorsaam
‘n Heilige lewe voor God is ook die aantrekkingskrag na God – en daarsonder is stiltetyd gewone pligspliging en/of word dit deur skuldgevoelens gedryf.

Die optrede-antwoord:
Paulus het eenmaal uitgeroep “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek”. Ek dink hy was redelik desperaat toe hy dit gesê het – en ek dink baie van ons sal baie goed verstaan wat in sy gedagtes omgegaan het, veral as ons gesels oor ons intieme verhouding met die Here en ons stiltetyd. Tog gaan dit hier oor doodgewone optredes of handelinge. Jy weet wat reg is en jy weet dat jy naby God moet leef – jy’t Hom mos lief, maar kom nie daarby uit nie. Hoe moet jy dan maak om hierdie allerbelangrike verhouding prakties te beleef?

Jy moet eers 2 belangrike redes verstaan waarom jy so sukkel…

● Eerstens is daar die konflik wat bestaan tussen jou gevoel (emosie) en jou wil (verstand). Beide wil beheer hê van jou optrede en jou besluite. Die geveg om beheer vind daagliks in jou plaas en begin die oomblik as jou wekker lui om jou te laat opstaan om stiltetyd te hou of reg te maak vir die dag. Gevoel sê: “lê nog 10 minute” en Wil sê “ek het baie om te doen”… en nou moet jy ‘n besluit neem voor jy behoorlik wakker is en baie van ons kies dan vir die gevoel-antwoord. So begin jou dag dan met ‘n besluit wat geneem is ogv jou emosie en nie met jou verstand nie – en baie ander besluite deur die dag volg dan dié voorbeeld.

● Tweedens gaan dit oor verkeeerde en gemaksugtige gewoontes wat jy oor jare heen aangeleer het. Hierdie gewoontes het jou karakter beïnvloed en maak jou wie jy op die oomblik is. Om heilig voor die Here te leef gaan vra dat jy eers jou karakter sal verander en om dit te doen moet jy jou gewoontes verander en heiligheidsgewoontes aanleer. Onthou gewoontes bepaal karakter en karakter kan alleen verander as jou gwoontes wat te doen het met jou gedagtes, geloof, en optrede verander. In die mate wat jy God se gewoontes soos in die Bybel vir jou gegee aanleer, in daardie mate sal jou karakter ook verander. Dit is met hierdie gesindheid wat ons ons stiltetyd en lees van ons Bybel moet benader...

As jy nou verstaan dat daar ‘n gedurige stryd in jou is om beheer van jou besluite en gewoontes, dan wil ek graag 3 stappe voorstel waarmee jy beheer oor jou besluite en gewoontes kan kry:

 

  1. Die eerste stap is om selfondersoek te doen en vas te stel of jy regtig die verandering in jou lewe wil hê. Hoe belangrik is dit vir jou om God met jou hele hart, siel en verstand te dien? Hoe belangrik is dit vir jou om die Here te plesier met jou gewoontes? Ons wil baie keer die eindresultaat hê sonder dat ons daarvoor wil werk en baklei (bv. Lotto en dieet). Baie van ons sê met oortuiging dat ons ‘n gelukkige huwelik wil hê, maar as jy nie baie hard daaraan werk nie, dryf julle uitmekaar. Baie van ons sê dat ons ‘n intieme verhouding met die Here vwil hê, maar ons is nie bereid om die dinge aan te leer en te doen wat só ‘n verhouding sal bewerkstellig nie. Emosies soek altyd die kortpad na plesier en probeer so beheer oor jou lewe kry en steel jou weg van God af! Emosies maak jou die belangrikste in die verhouding met God en die wil verstaan dat God eerste in jou lewe moet wees!
  1. Die tweede stap is om werklik te bid vir selfdissipline. Baie van ons bid daarvoor met die verwagting dat ek een môre gaan opstaan met ‘n klomp selfdissipline om die wêreld mee te oorwin. Nee, God werk anders, wanneer jy begin bid vir selfdissipline gebeur daar twee dinge in jou lewe.


Die eerste is dat jy meer sensitief en bewus word dat jy selfdisipline kort en die tweede is dat die Here jou in situasies gaan plaas waar jy sal moet bewys dat jy nie deur emosie gedryf word nie. Sonder hierdie situasies sal jy geen oefening kry in die neem van die regte besluite en so ook geen oorwinning smaak oor die sonde wat jou van God wil wegdryf nie. Onthou selfdisipline kom net deur oefening, en oefening en oefening…

  1. Die derde stap is dat jy ‘n spesifieke besluit sal moet neem en daarby hou. As jy bv dieet, daan gaan jy mos nie twee weke lank ophou eet nie? Nee, jy gaan liewer oorbodige etery soos ‘n tweede bord kos of ‘n ekstra skeppie rys begin uitskakel. Jy gaaan sslegte eetgewoontes vervang met goeie eetgewoontes.


Praktiese raad
— Wanneer jou wekker lui, moenie eers dink nie, gly-val uit jou bed op jou kniee en begin dadelik bid. Staan daarna op en gaan sit op ‘n plek, ver van jou bed af, waar jy regtig alleen met die Here kan wees.

— Begin klein en nie met ‘n hoop teologiese boeke en ‘n uur-lange stiltetyd nie, jy begin bloot met ‘n vyf-minute program – lees ‘n boek soos Markus of die Johannesbriewe stelselmatig deur. Luister na ‘n loflied op ‘n CD as inleiding vir jou stiltetyd. Begin uitkyk vir gebruikersvriendelike boeke wat jou kan help met vrae wat mag ontstaan wanneer jy die Bybel lees.

— Kry vir jou ‘n notaboekie waarin jy aantekeninge van vrae en ontdekkings kan maak sodat jy dit later kan opvolg. Skryf sommer die volgende dag se datum in jou boekie as aanmoediging om jou afspraak met die Here na te kom.

— Jy moet ook ‘n vriend gaan vertel (kameraad) van jou nuwe aksie-plan om naby die Here te leef sodat die vriend jou vriendelik kan aanmoedig om te volhard en ook vir jou kan bid. Erken dit maar – almal van ons het iewers ‘n polisieman nodig aan wie ons verantwooding doen, anders kom min dinge gedaan…

— Verder is dit belangrik dat jy nou met ander mense sal begin deel wat jou ervaring en ontdekkings met die Here is – op die manier sal jy die waarhede omtrent God en jou nuwe gewoontes internaliseer en baasraak.

— Volhard met die oefening vir 6 tot 8 weke. Dit sal in die begin wees soos iemand wat begin hardloop om fiks te word. Die eerste paar dae gaan dit wonderlik, dan begin dit vervelig en moeilik raak en die plafon voel of dit hier naby jou kop en God baie vêr is. Met rukke sal dit beter gaan en rukke weer slegter, totdat jy ‘n mate van fiksheid het en nie meer so baie moet insit om aan die gang te bly nie. As jy deurdruk met die oë op Jesus gevestig, sal jy voor jy jou kom kry nuwe en beter lewensgewoontes aanleer en beoefen wat jou naby aaan die Here sal laat leef!

Toewyding
Hierdie inligting wat ek vandag vir julle gee klink dalk eenvoudig maar ek wil jou verseker dat dit lewensnoodsaaklik is, só noodsaaklik dat jy nou ‘n besluit sal moet neem en net jy gaan bepaal of dit ‘n emosionele besluit of ‘n lewensveranderende besuit gaan wees. Terwyl ons die offergawes opneem speel ek ‘n liedjie van Piet Smit “Woorde en dade” ... Daarna as die boodskap jou geraak het sal ons ‘n toewydingslied sing waarin jy jou besluit aan die Here en aan die gemeente, wat dien as getuies, kan bekend maak.

Saterdag, 04 April 2015 23:13

Genade - die sleutel vir 'n dankbare lewe

Hoekom sukkel ons (Christene) so om dankbaar te lewe? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak...

Genade - Die sleutel vir 'n dankbare lewe! Mat.18:21-35 
v.35 “van harte vergewe” = dankbaarheid

Inleiding
      
Ek dink nou al ‘n paar jaar oor die woord “dankbaarheid” en meermale daaroor gepreek en geskryf. Tog bly ek wonder hoekom ons (Christene) dan nie dankbaar lewe nie? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak?

Kan ek jou vra om eers die volgende vrae te antwoord:
Beskryf hoe dankbare mense lyk en lewe?
Wat het jy nodig sodat jy ‘n dankbare lewe kan lei?

Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die  Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe of dankbare lewe gegee het. 
Alhoewe die woord „Dankbaarheid” nêrens in die teksdeel voorlom nie lyk dit vir my of hier ‚n storie agter die storie is, nl. ’n amptenaar wat nie dankbaar was oor die genade wat hy ontvang het nie. Om meer te verstaan wat “dankbaarheid” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.

Vertel: Kyk na die prent en probeer vir mekaar die verhaal vertel van die ondankbare amptenaar

1. Ons het hier met drie hoofkarakters te doen.

Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan ‘n mens doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Soveel om voor dankbaar te wees!

Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy sy dankbaarheid demonstreer en hom begenadig, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar dieselfde genade gun soos wat hy ontvang het nie. 

Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet.  Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie, wat nie besef hoe dankbaar hy behoort te wees nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar wat sou kon betaal, word nie vergewe nie. Die medeamptenaar word ongenadig hanteer en in die plek van genade kry hy ‘n helse lewe in die  tronk. Dis nou stank vir dank!

Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy genade ook weggeneem word – die omvang daarvan raak ook sy vrou en kinders. 

2. Genade is God se sleutel vir ‘n dankbare lewe.
 Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)

Ja, hier word ‘n voorwaarde vir genade gestel. Jy moet vergewe/begenadig, dan sal God jou genade gee. 

Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.

Verbeel jou die doopbak is God se ‘genadepoel’ – ons het dit almal nodig om te kan lewe (lewende water).

Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek die Koning vir vergifnis vir jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.

Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe ontvang.  Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my  my sonde? - maar nou stel God ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.

Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis.  Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen. Dis hier wat ons kan sien of god se genade betekenis vir jou het...

Die kruks van die verhaal vind ons in vers 35 waar Jesus sê dat as iemand nie sy broer “van harte” vergewe nie, sal God jou nie vergewe nie!

Die gevolg = dankbaarheid
As jy nie van harte kan vergewe nie – dws dankbaar kan wees, as jy jou verhard en mense nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal  jy jou kans om van die (ddaglikse) genadepoel te drink ontneem word – sal die nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en ondankbaarheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê  “soos deur vuur heen” wees.

Aan die ander kant, as jy uit dankbaarheid vir jou verlossing jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om elke dag van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag inspireer om dankbaar te lewe!

Twee soorte genade
1. Die eerste soort genade is die genade waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis. Jy het dit gekry omdat jy besef het dat jou sondeskuld grrot is en onbetaalbaar is. Jy het genade ontvang omdat jy vergifnis daarvoor gevra het en jy het jouself aan die Here gewy. Daar was geen voorwaardes nie en jy is aanvaar sonder voorwaardes om eers te verander of heilig te wees.

2. Die tweede soort genade is dit wat ons nodig het om elke dag vrugvol en dankbaar te lewe. Daagliks vra ons daarvoor en dat die Gees ons deur die dag sal lei. Tog gebeur dit dat die genade(water) se krag verdwyn – ons drink elke dag maar ons lewe voel afgestomp. Vers 35 dui vir ons die moontlike probleem aan. Vir die genade om kragtig te werk moet ons ander mense vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook dankbaar kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld – dankbaarheid!
 
Die genade wat ons aan ander betoon is nie sommer maar net vergeet-en-vergewe nie – dit moet uit die hart plaasvind. 

Dit kan net gebeur as jy van harte vergewe  = dankbaarheid

Dankbaarheid is ‘n bewuste besluit!
Jy sal moet besluit of jy werklik dankbaar wil lewe en dit vir jou naaste, dorp,  omgewing en die wye wêreld ook moontlik wil maak om dankbaar te lewe... As dit van ’n dankbaarheidsgevoel afhanklik moet wees sal daar nie veel van kom nie. Net soos die amptenaar pas nadat hy al sy skuld vergewe is ontdek het. Die eerste struikelblok is die mede-amptenaar wat hom geld skuld. Dit oorheers sy emosies em hy vergeet hoeveel hyself vergewe is. 
Dankbaarheid verg ’n doelbewuste besluit waarin jy kom-wat-wil by jou besluit bly. ’n Besluit wat jy sal moet voed met God se Woord, gemeenskap met ander gelowiges en die sakramente.

As amptenare van die Koning sal  jy vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om dankbaar te lewe nadat jy genade ontvang het.  

Normale omgang met mekaar behoort die te wees van  mekaar in liefde te vergewe.
Evangelisasie en sending-aksies  behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom wat aanloklik gemaak word deur dankbare lewens.

Slot
Hoe belangrik is God se genade vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In die „Ons Vader” (Matteus 6: 14-15 ) bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.

God het ons boonop gewys hoe genade werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in genade kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.

Wanneer ons nie genade uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik met DANKBAARHEID te benader. Genade moet genade gee om dankbaarheid en lewe te bring! Genade is God se sleutel waarmee die dankbare lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van dankbaar – dood!

Kom ons kyk of julle die boodskap vandag verstaan het.
Ek wil nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “dankbaarheid” op die bord te kom skryf/spel. (Wanneer die persoon “dankbaar” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G..E..N..A..D..E..”. )

Die wêreld wil graag vrede vir mekaar gee en gebruik die PEACE-teken. Miskien kan ons dit verander met  die kruis-teken en dan bedoel  demonstreer en bewys ons „Genade”. 

Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal  verstaan: “wat sal jou help om dankbaar te lewe?”

♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe. 
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.

AMEN.

Saterdag, 04 April 2015 22:55

Ek sou kon doen met ‘n miljoen...

“Ek sou kon doen met ‘n miljoen.. of twee of drie of tien...” Ja, dis nie net Lukas Maree wat so voel nie. Ek dink elkeen hier sou daarmee kon doen.

(Draai na mekaar en vertel mekaar wat die drie belangrikste dinge sal wees wat jy sou doen as jy nou ’n  miljoen rand wen...) 
  
Dit sou so lekker vir my en my vrou wees om ons huis af te betaal; ‘n paar rand in die bank te hê sodat ons nie weer so swaar sal kry as een van ons ons werk verloor nie; geld wegsit vir die kinders se universiteit; ‘n dubbelcab te hê, geld vir die kerk en vir behoeftige organisasies te gee... 
  
Dis juis omdat ons geld wil hê dat ons waag, soms alles waag, want elke keer glo ek dat ek hierdie keer gaan wen! 
Kaarte word gekrap, rande vir die masjien gevoer, ontbloot ons lewens voor miljoene mense dmv die kamera.. alles met die hoop dat ek tog die keer die “jackpot” sal slaan... 
  
Mense het verskillende redes waarom hulle dobbel: 
1. Maklike pad na rykdom - onweerstaanbare drang na rykdom - sonder om daarvoor te werk 
2. Avontuur - die tinteling en afwagting, die pret en plesier wat wen eindelik bring 
3. Liefdadigheid - geld gee vir ‘n goeie doel (ja, iemand het met ‘n goed bedoelde hart gesê dat hy wens hy wen ‘n miljoen rand om vir die kerk te gee sodat hulle my dienste voltryds kon bekostig... menslik gesproke ‘n briljante idee - maar kan ‘n Christen so optree? 
  
Verskeie artikels het die afgelope tyd verskyn en kerke het selfs teenstrydige standpunte oor veral lotery. Almal wil weet is dit reg of verkeerd? Waarom? Onderliggend is daar ‘n behoefte en smag na ‘n wonderwerk wat my uit my gemors en wanhoop sal haal  - iets soos ‘n miljoen kan my weer in staat stel om mens te wees - om selfs vir iemand iets te beteken!               
  
Ja, ‘n hele paar artikels wys ons op die gevare van dobbel en wil ons waarsku dat dobbelary newe-effekte het soos gierigheid en naywer. Ek wonder of dit nie andersom is nie? – dit is agv ons gierigheid en onvertroue op God, dat ons dobbel... 
  
Maar, ek wil daarom vanoggend nie vir julle goue reêls probeer gee waarom dobbel verkeerd is nie. Nee, ek wil juis oor die probleem praat wat VOOR dobbel lê, praat. Die ding wat maak dat ek wil dobbel en kanse waag. 
  
Boodskap: 
Ek nooi julle almal om by Matteus 6 oop te maak en saam met my te kyk wat Jesus in sy eie woorde vir ons gesê het. Ek gaan eers net ’n paar verse samevattend lees. (Mt.6:19-21,24,32-34) 
  
(Plaas #6 in perspektief) Deel van die Bergrede waar die tien gebooie in Nuwe Testament taal uitgespel word. Dit gaan hier veral oor die liefde tot die naaste en watter plek ek daarin het. 
  
(Lees en verduidelik stap vir stap). 
Ø Let op. Die “opskrif” van elke perikoop is in ‘n vraagvorm. 
Ø Daar is ‘n negatiewe sowel as ‘n positiewe stelling in elke perikoop wat die opskrif of vraag antwoord. 
Ø Saam met elke perikoop gaan ook ‘n belofte van die Here.                                                                        

1. Vers 1: “As julle armes help...” 
  


X moenie uitbasuin...
  
jou goeie dade moet verborge bly...


2. Vers 5: “As julle bid..” 
  

  
X bid om deur mense verheerlik te word nie..
  
  
√ vergewe mense hul oortredinge...

  
3. Vers 16: “As julle vas...” 
  

  
X moenie swaarkry wys om simpatie te wek...
  
  
√  versorg jou...

  
4. Vers 16: Veronderstel: “As julle skatte bymekaar maak...” 
  

  
X moenie aardse skatte bymekaar maak nie...
  
  
√  maak Koninkryk-skatte bymekaar..

  
5. Vers 22: Veronderstel: “As julle wil lewe/getuig...” 
  

  
X moenie sonder hoop / depressief lewe nie...
  
  
√  kyk met geloof na die wêreld...

  
6. Vers 24: Veronderstel: “As julle werk...” 
  

  
X moenie Mammon (geldgod) dien nie...
  
  
  dien God, die Voorsiener...

  
7. Vers 25-32: Veronderstel: “As julle bekommerd raak...” 
  

  
X moenie wanhopig raak nie..
  
  
√  beywer jou vir die koninkryk van God en vir die wil van God...

  
Die belofte wat met elke perikoop saam gaan is: “Die Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” of soos vers 33 dit saam vat: “...dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Dit is beloning of  voorsiening wat geen lotery of gelukslag kan belowe nie! 
  
Ja, geld en besittings maak ‘n belangrike deel van ons lewe uit! Dit is die tydsgees “hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê...” 

Rykdom en besitting is nie verkeerd nie - dit moet net die plek van God inneem nie... Dit is die gevaar van dobbel en lotery!!! 
Mt 6:33 stel die orde duidelik: soek EERS die koninkryk van God, dan sal GOD voorsien (nie jyself nie...) 
  
Sekuriteit lê in die koninkryk van God en nie in besittings nie. Die beste opbrengs en rente wat jy kan verdien is om in die Koninkryk en wil van God te belê! 
Om die koninkryk van God te soek beteken dat ek al my vertroue op God en sy liefde vir my en die mensdom sal plaas en dan Sy wil te DOEN! 
  
Wanneer jy God werklik begin vertrou ontdek jy dat waar alles in die lewe wankelbaar is – God juis altyd vasstaan en vertrou kan word. Geluk en sekuriteit kan NET by God gevind word! 
  
Christen-mense dobbel  – met al die goeie en slegte redes en verskonings - omdat hulle God nie regtig vertrou nie en menslik gesproke maklike oplossings vir hulle probleme soek...

Saterdag, 04 April 2015 22:26

Die Stokkie moet aangegee word.

Vraag: Wat is die groot opdrag wat die Here Jesus aan sy dissipels gegee het met sy hemelvaart?

Mat.28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Dit vra van elke Christen om dissipels te máák. Die dubbelpunt na “dissipels” dui vir ons aan “hoe” mens dissipels maak... doop hulle en leer hulle! En “wat” moet hulle leer? Alles wat Jesus hulle geleer het - die boodskap van God se liefde!

2 Tim 2 sluit by hierdie opdrag aan maar wil ons vertel dat hier ‘n proses ter sprake is. Die boodskap moet vertel word deur die volgende persone: “Wat jy (Timoteus) my (Paulus) voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy (Timoteus) toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om ander ook te leer.”  Van Paulus aan Timoteus aan betroubare manne, aan ander...

Dit is ‘n proses van oorvertel - die nuus van Christus moet oorvertel word van geslag tot geslag. Hier is 4 generasies betrokke. In moderne konteks kan ons sê dat ons as ouers die nuus moet oordra aan ons kinders - op so ‘n wyse dat ons kinders die nuus sal wil oordra aan hulle kinders!

Dit is soos ‘n aflos-resies. Sal 4 vrywilligers my asb kom help met die aflos? (Vooraf is met een kind gereël om te staan i.p.v. hardloop.)  Laat hulle deur kerk aflos hardloop - prys by my vir die wenners.../ neem tyd. (Gee deelnemers elk ‘n geskenkie.)

Vraag: As een stop in die resies, kan die resies voltooi word? Kan die prys ontvang word? Nee!
Ja, dit is dieselfde probleem wat ons het met ons kinders wat afvallig raak van die kerk...

Ons sien ouers wat tou opgooi met hulle kinders. Liewers geld gee om te fliek en te jol ipv na hulle luister en hulle verstaan. Pa en ma vlug in hulle werk in sodat hulle nie te veel met kinders se moeilike vrae en nukke gekonfronteer word nie.

Die kinders gaan leer hulle waardes op verkeerde plekke - die fliek, video, ens. ipv by ouers!

Iemand het gestop om die evangelie en goeie waardes aan hulle kinders oor te dra!!!
Iewers het ouers nie die stokkie op ‘n verantwoordelike manier (soos hulle met die doop van hul kinders belowe het) aangegee nie.
1. Moontlik het jou dade en jou woorde mekaar weerspreek...
2. Moontlik te bang gewees om jou doopbelofte na te kom omdat jyself nie ‘n goeie verhouding met God het nie...
3. Moontlik nie jou plig as ouer opgeneem nie omdat jy die weg van die minste konfrontasie gekies het...

Jesus het soveel in jou as ouer belang gestel dat die stokkie aan jou oorgegee is - waarom sal jy dit dan nou weerhou van jou kinders??? Dit is die doel van die Evangelie - dit moet aangegee of oorvertel word van geslag tot geslag soos Mat.28 dit vereis!

Timoteus gee vir ons 3 voorbeelde van hoe ‘n Christen die groot opdrag uitvoer om dissipels te maak:

v3: Soldaat
Leef anders as ander mense / het nie eie regte nie / leef onder eie streng wette / gee hul lewe vir die saak / leef nie vir hulle self nie maar vir hul bevelvoerder - doen net wat hy sê / veg teen die vyand sodat hul eie mense beskerm kan word .

v5: Atleet
moet volgens die reêls deelneem om die prys te kry / gedissiplineerd oefen / wil hê om te wen / self hardloop.

v6: Boer
Werk hard om vrug voort te bring / van vroeg tot laat sweet en bid / doen hul deel en vertrou op die natuur (God) om die werk te voltooi.

Hierdie voorbeelde help ons niks as ons nie die geheim van die stokkie ken nie...

Hoe weet ‘n mens jy het sukses behaal as atleet - die stokkie wat jy aangegee het is weer aan iemand anders gegee om verder te hardloop, as soldaat -wanneer die mense vir wie jy jou lewe offer self bereid is om hul lewe te offer vir hul saak, as die boer ‘n deel van die saad wat hy geoes het weer in die grond kan plant om weer saad voort te bring!

Die geheim van die stokkie is dat hy weer aangegee moet word!  As ouer en onderwyser en leier lê jou sukses daarin as jy sien dat die stokkie /Evangelie suksesvol verder aangegee word... Dit beteken dat ons sukses daarin lê dat ons kinders hul kinders na die Here Jesus sal lei.

Hoe sal ons jeug die Here kan ken as ons ouers, onderwyser en leiers nie opreg met God lewe en die jeug met daad en woord oortuig nie? (Hoe sal jou buurman/ vrou, die mense met wie jy werk/ speel die goeie nuus hoor, as jy dit nie oorvertel nie?)

Ons moet so lewe dat ons kinders die evangelie self sal uitleef en verder sal dra - dit mag nie by jou en my stop nie. Gelukkig weet ons dat toe ons die doopbelofte afgelê het, God ook beloof het dat Hy ons die genade en die krag en insig sal gee wat ons nodig het om die kinders in sy Naam groot te maak.

Vers 7 eindig met “Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.”

Dit is God se uitnodiging aan ons vanmore om in ‘n intieme en eerlike verhouding met die Hom  te kom staan - Hy sal ons die krag en genade gee om die stokkie aan te gee...

Vrydag, 03 April 2015 18:36

Dra mekaar se laste!

Ons word die afgelope weke baie bewus gemaak van die morele en sedelike verval van die mens wanneer ons hoor van hoe VIGS letterlik duisende afmaai en verkragtings van veral kinders is voortdurend op die nuus.  Ons kan makilk oordeel dat dit nie iets met ons te doen het nie – ons is mos kerkmense en ons kom die wette van God na. Ons is kerkmense en is darem in die kerk vanmôre – nie in die bed en winkels soos baie ander nie… ...En as ons eerlik wil wees... ontdek ons dat al ons kerkgebruike en godsdienstige gewoontes nie eintlik ‘n verkil aan die wêreld om  ons maak nie. Ons kerk het ‘n tyd lank aan die hele land voorgeskryf hoe om te lewe en reëls en regulasies gehad om die sosiale orde te reël en  te regverdig maar toe dié voorgeskrewe wette weggeneem word en die mens vetrou word om nou met sy eie gewete saam te leef, toe sien ons mense sonder ‘n begeerte om ddie wil van God te doen – sien ons mense wat net hulself en hul eie plesier en eie behoud in die oog het…

Ek het in die Bybel ontdek dat daar soortgelyke situasie beskryf word. Die brief aan die Galasiërs is ongeveer 50 nC geskryf aan mense wat die wet en die onderhouding daarvan oorbeklemtoon het en hulle het gedink dat dit vir hulle en vir heidene verlossing sal bring. In die 3e hoofstuk van Galasiërs verduidelik Paulus ernstig dat die onderhouding van al hierdie wette nie verlossing bring nie en dat dit ook veroorsaak dat mense afgeskrik word van die evangelie. Want wanneer mense tot bekering gekom het moes hulle eers Jode word en die joodse wette nakom voordat hulle as Christene beskou is.

In hoofstuk 3:19-25 verduidelik Paulus wat die regte doel van die wet is – nie om mense te red nie, maar om hulle in bewaring te hou totdat Jesus weer kom.  Verder wil hy dit sterk onder hulle aandag bring dat die wet wat die belangrikste is om na te kom in hierdie tyd waarop hulle vir Jesus wag – die wet van Christus is. En hy’t ook besef dat hy ook hierdie wet sal moet verduidelik ander gaan hulle weer hule eie interpretasie maak en daarom lees ons in Gal.5:14 “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Paulus het hierdie woorde aan die Galasiërs gestuur om hulle daaraan te herinner dat God nie daar is om hulle net met hulle persoonlike nood en vrees en tekorte en bedreigings te bedien nie nie, maar dat die gelowige ‘n verantwoordelikheid teenoor sy medemens het – ons moet mekaar se laste dra. Dit is die manier hoe jy medegelowiges help en hoe jy heidene vir die evangelie wen.
Hier in hoosftuk ses word verduidelik hoe jy die wet van Christus uitleef waar mense in sondigheid verval het.
Hier word verduidelik watter rol die Christen moet speel en hoe die Christen verlore en vervalle mense in ’n gees van sagmoedigheid kan reghelp. Ja, die gesindheid én veral die manier waarop ons dit doen, is belangrik.

Ek wil vanoggend twee verkeerde gedagtes wat baie Christene het oor die dra van mekaar se laste besweer en regstel:

1.Baie keer dink ’n mens jy kan nie iemand anders se las dra nie, want jy het self te veel laste.
Werk dit regtig so? Maak jou las dit vir jou onmoontlik om iemand anders te help?

In hierdie opsig dink ek altyd terug aan ‘n jeugkamp verlede jaar. Ons het een nag in die veld gaan slaap en die kinders moes net hul slaapsakke en eetgerei en warm klere saamdra - die meeste in P&P sakkies. Die kleintjies veral kon dit nie maak nie en ek, wat heel agter geloop het, sit toe met al die los en ongemaklike pakkies. Eers het ek dit aan ‘n stok oor my skouer gedra, maar dit wou nie werk nie. Later het ek ‘n stok dwars oor my twee skouers gesit en die pakkies weerskante gedra - en ek kon selfs nog meer pakkies ophang!

(Demonstreer mbv 2 emmers en hulp uit die gemeente.) Het jy al ‘n emmer water probeer dra? Mens loop so skeef-skeef want die emmer kap kort-kort teen jou knie en dan mors en spat die water boonop. Dit gebeur omdat jy ongebalanseerd is. Ja, jy’t dalk van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.
Al wat regtig help het, is om nog ’n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra. Op dié manier is jy meer gebalanseerd, loop jy baie makliker en niks water word gemors nie.

In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ’n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie. Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd.

Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, maak jy jou las “ligter”.

Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom ons te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op. So sal jy perspektief kry en verligting ervaar.

2. Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ’n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy.

Nou die dag ry ek in Pretoria en sien ‘n bordie wat waarsku dat dit “hi-jack territory” is. Met ander woorde ek ry daardie pad op eie risiko. En sou ek aangeval word – dan kan niemand anders blameer word nie – ek het diot op myself aangebring.
Die priester en Leviet het verbygestap want hulle het ook die pad geken en die  gevare daarvan en as hulle sou stop was hulle in groter gevaar! Maar ’n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp tsv die gevaar waarin hy hom nou begewe het. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.

In verse 7-10 vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan medegelowiges, maar ook aan nie-gelowiges (vgl ook 1 Tess 5:15). Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir mekaar se fisieke nood en behoeftes (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27). Belangrik om te onthou is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges, geld (Rom 12:20; Gal 5:14).

Het julle al gewonder hoekom die Evangelie so vinnig in Paulus se tyd versprei het?
Moderne navorsers soos Meeks, Malherbe en Theissen het antwoorde gesoek op die vraag waarom die vroeë Christendom so geweldig vinnig en ver versprei het. Hulle het uitgevind dat kwessies soos armoede en die sosiale omstandighede van mense aangespreek is.

Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse-ongelykheid is sover moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing van hierdie geleerdes is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ’n sisteem van ekonomiese onreg was.

Paulus herinner ons dan ook daaraan dat ons sal oes wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai in die land van selfsug, sal ons die dood oes (Rom 8:6, 13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die land van Gods Gees, sal ons die lewe oes. Ons moet aan onsself en ons belange sterf sodat Christus in ons gestalte kan kry. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.

Paulus moedig ons ook aan om nie moeg te word om goed te doen nie. Dit herinner sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Matt 25:31-46) LEES!. Hierin gaan dit oor eenvoudige, alledaagse dade van goedhartigheid wat ons moet doen, soos om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Maar dit wil lyk of dit juis hierdie ooglopende dinge is waarmee ons soms so sukkel.

Demonstreer met swaar emmer wat bedoel word met dra mekaar se laste. Vra 3 mense om 2 emmers te dra – maak las ligter en draaglik!

Ja, as daar een kerklike gewoonte is wat ons vandag met ons hele hart moet najaag en met ons hele lewe moet doen is dit die dra van mekaar se laste. So help ons die medegelowiges en so bring ons die ware evangelie aan baie mense in uiterste nood.

Sien raak wanneer ander mense swaar kry en help hulle. Tel hulle kruis op jou skouers en dra dit vir hulle. Moenie dat hulle alleen met hulle probleme, verpligtinge, skuld en ladings worstel nie. So doen ’n mens presies wat Christus van jou verwag. Dit is die mees praktiese manier om die Evangelie oor te dra!

Vrydag, 03 April 2015 14:41

Vergifnis vra vergifnis - dit maak nuut!

Paassondag gaan oor nuut en vars lewe. Jesus het deur sy oorwinning oor die dood vir ons ‘n nuwe lewe – die ewige lewe – moontlik gemaak. Ek’t gewonder hoekom ons (Christene) nie nuut lewe nie? Hoekom is die lewe dikwels so afgesaag en treurig vir ons? Hoekom is dit nie altyd lekker om Christen te wees en om vir die kerk te werk nie?

“Nuut” behoort tog te beteken dat daar varsheid en aksie teenwoordig moet wees!
Die Nuwe Testament veral, is vol daarvan dat Christene nuut of selfs anders moet leef – dat ons ‘n verskil in die wêreld sal maak...

Ek dink daar is twee soorte “Nuut” waarvan ons vandag kennis moet neem. Maar voor ek  die twee soorte nuut verduidelik moet ek  eers vir julle die sleutel gee waarmee ‘n mens “Nuut” sal verstaan en daarom wil ek nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “vergifnis” op die bord te kom skryf/spel.

(Wanneer die persoon “vergifnis” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G.E.N.A.D.E.”. )

Ja, sonder genade kan daar nie sprake van nuut lewe wees nie! Die sleutel tot nuut leef is genade en om genade te ontvang moet jy vergifnis vra vir jou skuld.
Ons weet almal dat ons elke dag uit God se genade leef maar dit maak ons nie noodwendig nuut leef nie...

Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die  Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe lewe gegee het. Om meer te verstaan wat “nuut” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.

Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan iemand doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Vergifnis maak nuwe lewe moontlik!!!

Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy genade betoon en vergifnis gee, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar ‘n nuwe lewe gun soos wat hy ontvang het nie.

Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet.  Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar sou kon betaal, maar word nie vergewe nie. Die medeamptenaar se nuwe lewe word van hom weggevat en in die plek daarvan kry hy ‘n helse lewe in die  tronk.

Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy nuwe lewe ook weggeneem word – nie net word sy nuwe lewe weggeneem nie,  maar ook die van sy vrou en kinders!

Vergifnis is God se sleutel vir die nuwe lewe.
Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)

Ja, hier word ‘n voorwaarde vir vergifnis gestel. Jy moet eers vergewe, dan sal God jou vergewe.
Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.

  1. Gebruik doopbak as voorbeeld van God se ‘genadepoel’ – ons het dit almal nodig om te kan lewe (lewende water).
  2. Vra drie vrywilligers om om te help – elkeen gebruik om die volgende rolle te vervul. (Staan rondom genadepoel).


Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek voor die Koning vir vergifnis van jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.

Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe – DIE NUWE LEWE ontvang.  Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my  my sonde? - maar God stel ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.

Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis.  Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen.

Die gevolg
As jy jou verhard en hulle nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal  jy jou kans om van die genadepoel te drink ontneem word – sal jou nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en eentonigheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en  sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê  “soos deur vuur heen” wees.

Aan die ander kant, as jy jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om weer van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag nuut en vars maak!
(Die helpers kan gaan sit, dankie)

Nou mag julle vra “wat nou van die twee soorte nuut waarvan jy gepraat het?
1. Die eerste soort nuut is die keer waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis.

2. Die tweede soort nuut is die nuut wat ons elke dag moet lewe. Daarvoor het jy voortdurend vergifnis nodig. Die manier om dit te kry is om ander mense te vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook nuut kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld –verfgifnis!

Waarom is dit nodig dat ons moet weet van die twee soorte nuut?
Elkeen van ons sal moet besluit of ons waarlik nuut wil lewe en dit vir ons dorp en omgewing en die wye wêreld moontlik wil maak om nuut te lewe...

As amptenare van die Koning sal  ons vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om te vergewe!

Ons normale omgang met mekaar behoort die te wees van  mekaar in liefde vergewe.
Ons evangelisasie en sending-aksies  behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom.

Slot
God het jou wel van jou algemene sondigheid vergewe toe jy jou na Hom gekeer het, maar nou verwag Hy dat jy sal doen soos Hý. Jy moet reageer met vergifnis.

Jóú volgende vergifnis hang grootliks daarvan af of jy kan vergewe. Jou nuwe lewe hang af daarvan of jy nuwe lewe gee...

Hoe belangrik is God se vergifnis vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In hierdie gedeelte bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.

God het ons boonop gewys hoe vergifnis werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in vegifnis kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.

Wanneer ons nie vergifnis uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik NUUT te benader. Vergifnis moet vergifnis gee om nuutheid en varsheid te bring! Vergifnis is God se sleutel waarmee die nuwe lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van nuut – dood!

Geel strikkies
Ek sal  ‘n growwe fout begaan as ek julle vandag hier los en nie help om die eerste stap tot verginis te  neem nie. En daarom wil ek julle vertel van ‘n verhaal – eintlik ‘n liedjie.

Daar was ’n man in ‘n tronk wat sy familie in skande gesteek het. Hoe nader dit aan sy vrylating kom hoe banger was hy om huis toe te gaan. Sê nou maar hulle gaan hom verwerp? Hy skryf toe ‘n briefie en vra dat ‘n geel strikkie aan die boom gegang word as hy welkom is, anders sal hy maar net in die trein bly en verbygaan. Met sy aankoms was die hele boom vol geel strikkies!

Ons onderskat dikwels God se vergifnis en wonder of Hy ons nog wil hê.
As jy weer wonder of die Here jou wil hê, kyk op na die Golgota-gebeure want daar staan ‘n “boom” oortrek met geel strikke! Die Here nooi jou om na Hom toe te kom as jy vermoeid en belas is- as jy sonder vreugde is omdat jy ander nie die nuwe lewe gegun het nie, om nou die besluit te neem en reg te maak...

♦ Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal  verstaan: “wat sal jou help om nuut te lewe?”

♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe.
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.
♦ As dit jou voorneme is om uit dankbaarheid vir God se genade en vergifnis aan jou, nou ander mense en sake te vergewe, word jy nou genooi om stil op te staan en vir jou ‘n geel strikkie/ kaartjie van die kruis af te gaan haal as ‘n simboliese gebaar van jou besluit om nuut te leef en om ander die nuwe lewe te help kry. As jy nog eers wil dink daaroor kan jy gerus ‘n geel kaartjie neem om jou te herinner daaraan dat God op jou antwoord wag.

(Speel Willie Joubert se “Net U bloed” terwyl mense vorentoe stap.)

AMEN.

Kalender

« November 2017 »
Ma di wo do Vry za zo
    1 2 3 4 5
6 7 8 9 10 11 12
13 14 15 16 17 18 19
20 21 22 23 24 25 26
27 28 29 30      

Top Blogs

Dirk C Lourens
28 November 2015
Kerk en Wêreld
Die eeue oue probleem van selfde-geslagverhoudinge is sterk onder die vergrootglas en word tans debatteer in baie kerke. Sommige is in angs daaroor - ander wil dit in jou keel afdruk - ander druk hul ...
Rate this blog entry:

Nuutste Gesprekke

No discussions yet.
Google+