2010 - vorentoe of agtertoe?
| < Vorige |
|---|
2010, die tweede dekade van die nuwe millennium het aangebreek!
Voel soos gister toe baie in angs gesit en wag het dat die wêreld (ten minste die internet-wêreld) tot 'n einde sal kom as die jaar 2000 aanbreek... Voel nog soos gister toe Suid-Afrika in angs gewag het op 'n nuwe politieke bedeling wat reg en geregtigheid vir meer van sy inwoners moes meebring maar waar die prosesse en die bedoelings van leiers nie vertrou is nie... Voel nog soos gister toe 'n reuse Tsunami duisende mense se lewens oor 'n kersseisoen geneem en ontwrig het...
Verandering gaan met angs(tigheid) gepaard. Vreemd hoe sagkens die tweede dekade aangebreek het! Vreemd hoe gewoond ons raak aan oorloë en onreg in die wêreld. Vreemd hoe baie politieke leiers deur die populus toegelaat en ondersteun word om onreg teen juis húlle te pleeg. Vreemd hoe gelate die onlangse mislukte wêreld-debat oor die redding van ons planeet en die vermindering van aardverwarmingsgasse deur die wêreld aanvaar is.
Soveel lewensingrypende dinge gebeur vandag maar dit raak ons nie meer nie. Is dit omdat ons nie meer uitsig en hoop het nie? Is die internetduiwel (die Bees, nr. 666) se 'magte' besweer/aanvaar? Het te veel van ons leiers ons al teleurgestel? Is ons planeet al soveel beskadig dat daar geen omdraai meer is nie? Is dit omdat reg en geregtigheid soveel selfopoffering verg dat ons dit maar daar laat?
Waarom kan ons net nie vorentoe beweeg en vrede en geregtigheid bereik in hierdie moderne wêreld nie?
Wat is jou kommentaar?
(Lees hier hoe om kommentaar te lewer)
Laas Opdateer (Vrydag, 01 Januarie 2010 10:14)