Voorblad
Boodskap Kategorië - Dominee.org.za - Die Woord vir Almal!
Saterdag, 04 April 2015 23:13

Genade - die sleutel vir 'n dankbare lewe

Hoekom sukkel ons (Christene) so om dankbaar te lewe? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak...

Genade - Die sleutel vir 'n dankbare lewe! Mat.18:21-35 
v.35 “van harte vergewe” = dankbaarheid

Inleiding
      
Ek dink nou al ‘n paar jaar oor die woord “dankbaarheid” en meermale daaroor gepreek en geskryf. Tog bly ek wonder hoekom ons (Christene) dan nie dankbaar lewe nie? Ons het soveel om voor dankbaar te wees en soveel om voor te lewe? Hoekom is dit asof ons al God se goedheid opgebruik sonder dat dankbaarheid regtig sigbaar is in ons lewe? Dit is tog ons dankbaarheid wat ‘n verskil in die wêreld moet maak?

Kan ek jou vra om eers die volgende vrae te antwoord:
Beskryf hoe dankbare mense lyk en lewe?
Wat het jy nodig sodat jy ‘n dankbare lewe kan lei?

Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die  Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe of dankbare lewe gegee het. 
Alhoewe die woord „Dankbaarheid” nêrens in die teksdeel voorlom nie lyk dit vir my of hier ‚n storie agter die storie is, nl. ’n amptenaar wat nie dankbaar was oor die genade wat hy ontvang het nie. Om meer te verstaan wat “dankbaarheid” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.

Vertel: Kyk na die prent en probeer vir mekaar die verhaal vertel van die ondankbare amptenaar

1. Ons het hier met drie hoofkarakters te doen.

Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan ‘n mens doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Soveel om voor dankbaar te wees!

Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy sy dankbaarheid demonstreer en hom begenadig, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar dieselfde genade gun soos wat hy ontvang het nie. 

Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet.  Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie, wat nie besef hoe dankbaar hy behoort te wees nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar wat sou kon betaal, word nie vergewe nie. Die medeamptenaar word ongenadig hanteer en in die plek van genade kry hy ‘n helse lewe in die  tronk. Dis nou stank vir dank!

Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy genade ook weggeneem word – die omvang daarvan raak ook sy vrou en kinders. 

2. Genade is God se sleutel vir ‘n dankbare lewe.
 Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)

Ja, hier word ‘n voorwaarde vir genade gestel. Jy moet vergewe/begenadig, dan sal God jou genade gee. 

Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.

Verbeel jou die doopbak is God se ‘genadepoel’ – ons het dit almal nodig om te kan lewe (lewende water).

Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek die Koning vir vergifnis vir jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.

Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe ontvang.  Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my  my sonde? - maar nou stel God ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.

Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis.  Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen. Dis hier wat ons kan sien of god se genade betekenis vir jou het...

Die kruks van die verhaal vind ons in vers 35 waar Jesus sê dat as iemand nie sy broer “van harte” vergewe nie, sal God jou nie vergewe nie!

Die gevolg = dankbaarheid
As jy nie van harte kan vergewe nie – dws dankbaar kan wees, as jy jou verhard en mense nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal  jy jou kans om van die (ddaglikse) genadepoel te drink ontneem word – sal die nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en ondankbaarheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê  “soos deur vuur heen” wees.

Aan die ander kant, as jy uit dankbaarheid vir jou verlossing jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om elke dag van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag inspireer om dankbaar te lewe!

Twee soorte genade
1. Die eerste soort genade is die genade waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis. Jy het dit gekry omdat jy besef het dat jou sondeskuld grrot is en onbetaalbaar is. Jy het genade ontvang omdat jy vergifnis daarvoor gevra het en jy het jouself aan die Here gewy. Daar was geen voorwaardes nie en jy is aanvaar sonder voorwaardes om eers te verander of heilig te wees.

2. Die tweede soort genade is dit wat ons nodig het om elke dag vrugvol en dankbaar te lewe. Daagliks vra ons daarvoor en dat die Gees ons deur die dag sal lei. Tog gebeur dit dat die genade(water) se krag verdwyn – ons drink elke dag maar ons lewe voel afgestomp. Vers 35 dui vir ons die moontlike probleem aan. Vir die genade om kragtig te werk moet ons ander mense vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook dankbaar kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld – dankbaarheid!
 
Die genade wat ons aan ander betoon is nie sommer maar net vergeet-en-vergewe nie – dit moet uit die hart plaasvind. 

Dit kan net gebeur as jy van harte vergewe  = dankbaarheid

Dankbaarheid is ‘n bewuste besluit!
Jy sal moet besluit of jy werklik dankbaar wil lewe en dit vir jou naaste, dorp,  omgewing en die wye wêreld ook moontlik wil maak om dankbaar te lewe... As dit van ’n dankbaarheidsgevoel afhanklik moet wees sal daar nie veel van kom nie. Net soos die amptenaar pas nadat hy al sy skuld vergewe is ontdek het. Die eerste struikelblok is die mede-amptenaar wat hom geld skuld. Dit oorheers sy emosies em hy vergeet hoeveel hyself vergewe is. 
Dankbaarheid verg ’n doelbewuste besluit waarin jy kom-wat-wil by jou besluit bly. ’n Besluit wat jy sal moet voed met God se Woord, gemeenskap met ander gelowiges en die sakramente.

As amptenare van die Koning sal  jy vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om dankbaar te lewe nadat jy genade ontvang het.  

Normale omgang met mekaar behoort die te wees van  mekaar in liefde te vergewe.
Evangelisasie en sending-aksies  behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom wat aanloklik gemaak word deur dankbare lewens.

Slot
Hoe belangrik is God se genade vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In die „Ons Vader” (Matteus 6: 14-15 ) bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.

God het ons boonop gewys hoe genade werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in genade kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.

Wanneer ons nie genade uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik met DANKBAARHEID te benader. Genade moet genade gee om dankbaarheid en lewe te bring! Genade is God se sleutel waarmee die dankbare lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van dankbaar – dood!

Kom ons kyk of julle die boodskap vandag verstaan het.
Ek wil nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “dankbaarheid” op die bord te kom skryf/spel. (Wanneer die persoon “dankbaar” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G..E..N..A..D..E..”. )

Die wêreld wil graag vrede vir mekaar gee en gebruik die PEACE-teken. Miskien kan ons dit verander met  die kruis-teken en dan bedoel  demonstreer en bewys ons „Genade”. 

Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal  verstaan: “wat sal jou help om dankbaar te lewe?”

♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe. 
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.

AMEN.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Matteus 18:21 35 (35)
  • Bybelboek Matteus
  • Illustrasies & Hulpmiddels

     Gebruik vrae om denke en verwagting vir die boodskap te skep.
    Gebruik doopbak as illustrasie vir God se "Genadepoel".
    Papier en potlode om gedagtes en voornemens op te teken.
    Geleentheid vir oorgawe (opnuut).
    Spesiale dankoffer geleentheid.

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Koninkrykstyd
Gepubliseer in Preek
Saterdag, 04 April 2015 22:55

Ek sou kon doen met ‘n miljoen...

“Ek sou kon doen met ‘n miljoen.. of twee of drie of tien...” Ja, dis nie net Lukas Maree wat so voel nie. Ek dink elkeen hier sou daarmee kon doen.

(Draai na mekaar en vertel mekaar wat die drie belangrikste dinge sal wees wat jy sou doen as jy nou ’n  miljoen rand wen...) 
  
Dit sou so lekker vir my en my vrou wees om ons huis af te betaal; ‘n paar rand in die bank te hê sodat ons nie weer so swaar sal kry as een van ons ons werk verloor nie; geld wegsit vir die kinders se universiteit; ‘n dubbelcab te hê, geld vir die kerk en vir behoeftige organisasies te gee... 
  
Dis juis omdat ons geld wil hê dat ons waag, soms alles waag, want elke keer glo ek dat ek hierdie keer gaan wen! 
Kaarte word gekrap, rande vir die masjien gevoer, ontbloot ons lewens voor miljoene mense dmv die kamera.. alles met die hoop dat ek tog die keer die “jackpot” sal slaan... 
  
Mense het verskillende redes waarom hulle dobbel: 
1. Maklike pad na rykdom - onweerstaanbare drang na rykdom - sonder om daarvoor te werk 
2. Avontuur - die tinteling en afwagting, die pret en plesier wat wen eindelik bring 
3. Liefdadigheid - geld gee vir ‘n goeie doel (ja, iemand het met ‘n goed bedoelde hart gesê dat hy wens hy wen ‘n miljoen rand om vir die kerk te gee sodat hulle my dienste voltryds kon bekostig... menslik gesproke ‘n briljante idee - maar kan ‘n Christen so optree? 
  
Verskeie artikels het die afgelope tyd verskyn en kerke het selfs teenstrydige standpunte oor veral lotery. Almal wil weet is dit reg of verkeerd? Waarom? Onderliggend is daar ‘n behoefte en smag na ‘n wonderwerk wat my uit my gemors en wanhoop sal haal  - iets soos ‘n miljoen kan my weer in staat stel om mens te wees - om selfs vir iemand iets te beteken!               
  
Ja, ‘n hele paar artikels wys ons op die gevare van dobbel en wil ons waarsku dat dobbelary newe-effekte het soos gierigheid en naywer. Ek wonder of dit nie andersom is nie? – dit is agv ons gierigheid en onvertroue op God, dat ons dobbel... 
  
Maar, ek wil daarom vanoggend nie vir julle goue reêls probeer gee waarom dobbel verkeerd is nie. Nee, ek wil juis oor die probleem praat wat VOOR dobbel lê, praat. Die ding wat maak dat ek wil dobbel en kanse waag. 
  
Boodskap: 
Ek nooi julle almal om by Matteus 6 oop te maak en saam met my te kyk wat Jesus in sy eie woorde vir ons gesê het. Ek gaan eers net ’n paar verse samevattend lees. (Mt.6:19-21,24,32-34) 
  
(Plaas #6 in perspektief) Deel van die Bergrede waar die tien gebooie in Nuwe Testament taal uitgespel word. Dit gaan hier veral oor die liefde tot die naaste en watter plek ek daarin het. 
  
(Lees en verduidelik stap vir stap). 
Ø Let op. Die “opskrif” van elke perikoop is in ‘n vraagvorm. 
Ø Daar is ‘n negatiewe sowel as ‘n positiewe stelling in elke perikoop wat die opskrif of vraag antwoord. 
Ø Saam met elke perikoop gaan ook ‘n belofte van die Here.                                                                        

1. Vers 1: “As julle armes help...” 
  


X moenie uitbasuin...
  
jou goeie dade moet verborge bly...


2. Vers 5: “As julle bid..” 
  

  
X bid om deur mense verheerlik te word nie..
  
  
√ vergewe mense hul oortredinge...

  
3. Vers 16: “As julle vas...” 
  

  
X moenie swaarkry wys om simpatie te wek...
  
  
√  versorg jou...

  
4. Vers 16: Veronderstel: “As julle skatte bymekaar maak...” 
  

  
X moenie aardse skatte bymekaar maak nie...
  
  
√  maak Koninkryk-skatte bymekaar..

  
5. Vers 22: Veronderstel: “As julle wil lewe/getuig...” 
  

  
X moenie sonder hoop / depressief lewe nie...
  
  
√  kyk met geloof na die wêreld...

  
6. Vers 24: Veronderstel: “As julle werk...” 
  

  
X moenie Mammon (geldgod) dien nie...
  
  
  dien God, die Voorsiener...

  
7. Vers 25-32: Veronderstel: “As julle bekommerd raak...” 
  

  
X moenie wanhopig raak nie..
  
  
√  beywer jou vir die koninkryk van God en vir die wil van God...

  
Die belofte wat met elke perikoop saam gaan is: “Die Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” of soos vers 33 dit saam vat: “...dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Dit is beloning of  voorsiening wat geen lotery of gelukslag kan belowe nie! 
  
Ja, geld en besittings maak ‘n belangrike deel van ons lewe uit! Dit is die tydsgees “hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê...” 

Rykdom en besitting is nie verkeerd nie - dit moet net die plek van God inneem nie... Dit is die gevaar van dobbel en lotery!!! 
Mt 6:33 stel die orde duidelik: soek EERS die koninkryk van God, dan sal GOD voorsien (nie jyself nie...) 
  
Sekuriteit lê in die koninkryk van God en nie in besittings nie. Die beste opbrengs en rente wat jy kan verdien is om in die Koninkryk en wil van God te belê! 
Om die koninkryk van God te soek beteken dat ek al my vertroue op God en sy liefde vir my en die mensdom sal plaas en dan Sy wil te DOEN! 
  
Wanneer jy God werklik begin vertrou ontdek jy dat waar alles in die lewe wankelbaar is – God juis altyd vasstaan en vertrou kan word. Geluk en sekuriteit kan NET by God gevind word! 
  
Christen-mense dobbel  – met al die goeie en slegte redes en verskonings - omdat hulle God nie regtig vertrou nie en menslik gesproke maklike oplossings vir hulle probleme soek...

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Matteus 6:1 34 (33)
  • Bybelboek Matteus
  • Illustrasies & Hulpmiddels

    Prente van "Tatta Ma Chance"

  • Voorgestelde liedjies & musiek

    Gebed:  Here... “moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.”     Amen
    (Spreuke 30:8-9)

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

    2. Die Voorligter

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Koninkrykstyd
Gepubliseer in Preek
Saterdag, 04 April 2015 22:26

Die Stokkie moet aangegee word.

Vraag: Wat is die groot opdrag wat die Here Jesus aan sy dissipels gegee het met sy hemelvaart?

Mat.28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Dit vra van elke Christen om dissipels te máák. Die dubbelpunt na “dissipels” dui vir ons aan “hoe” mens dissipels maak... doop hulle en leer hulle! En “wat” moet hulle leer? Alles wat Jesus hulle geleer het - die boodskap van God se liefde!

2 Tim 2 sluit by hierdie opdrag aan maar wil ons vertel dat hier ‘n proses ter sprake is. Die boodskap moet vertel word deur die volgende persone: “Wat jy (Timoteus) my (Paulus) voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy (Timoteus) toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om ander ook te leer.”  Van Paulus aan Timoteus aan betroubare manne, aan ander...

Dit is ‘n proses van oorvertel - die nuus van Christus moet oorvertel word van geslag tot geslag. Hier is 4 generasies betrokke. In moderne konteks kan ons sê dat ons as ouers die nuus moet oordra aan ons kinders - op so ‘n wyse dat ons kinders die nuus sal wil oordra aan hulle kinders!

Dit is soos ‘n aflos-resies. Sal 4 vrywilligers my asb kom help met die aflos? (Vooraf is met een kind gereël om te staan i.p.v. hardloop.)  Laat hulle deur kerk aflos hardloop - prys by my vir die wenners.../ neem tyd. (Gee deelnemers elk ‘n geskenkie.)

Vraag: As een stop in die resies, kan die resies voltooi word? Kan die prys ontvang word? Nee!
Ja, dit is dieselfde probleem wat ons het met ons kinders wat afvallig raak van die kerk...

Ons sien ouers wat tou opgooi met hulle kinders. Liewers geld gee om te fliek en te jol ipv na hulle luister en hulle verstaan. Pa en ma vlug in hulle werk in sodat hulle nie te veel met kinders se moeilike vrae en nukke gekonfronteer word nie.

Die kinders gaan leer hulle waardes op verkeerde plekke - die fliek, video, ens. ipv by ouers!

Iemand het gestop om die evangelie en goeie waardes aan hulle kinders oor te dra!!!
Iewers het ouers nie die stokkie op ‘n verantwoordelike manier (soos hulle met die doop van hul kinders belowe het) aangegee nie.
1. Moontlik het jou dade en jou woorde mekaar weerspreek...
2. Moontlik te bang gewees om jou doopbelofte na te kom omdat jyself nie ‘n goeie verhouding met God het nie...
3. Moontlik nie jou plig as ouer opgeneem nie omdat jy die weg van die minste konfrontasie gekies het...

Jesus het soveel in jou as ouer belang gestel dat die stokkie aan jou oorgegee is - waarom sal jy dit dan nou weerhou van jou kinders??? Dit is die doel van die Evangelie - dit moet aangegee of oorvertel word van geslag tot geslag soos Mat.28 dit vereis!

Timoteus gee vir ons 3 voorbeelde van hoe ‘n Christen die groot opdrag uitvoer om dissipels te maak:

v3: Soldaat
Leef anders as ander mense / het nie eie regte nie / leef onder eie streng wette / gee hul lewe vir die saak / leef nie vir hulle self nie maar vir hul bevelvoerder - doen net wat hy sê / veg teen die vyand sodat hul eie mense beskerm kan word .

v5: Atleet
moet volgens die reêls deelneem om die prys te kry / gedissiplineerd oefen / wil hê om te wen / self hardloop.

v6: Boer
Werk hard om vrug voort te bring / van vroeg tot laat sweet en bid / doen hul deel en vertrou op die natuur (God) om die werk te voltooi.

Hierdie voorbeelde help ons niks as ons nie die geheim van die stokkie ken nie...

Hoe weet ‘n mens jy het sukses behaal as atleet - die stokkie wat jy aangegee het is weer aan iemand anders gegee om verder te hardloop, as soldaat -wanneer die mense vir wie jy jou lewe offer self bereid is om hul lewe te offer vir hul saak, as die boer ‘n deel van die saad wat hy geoes het weer in die grond kan plant om weer saad voort te bring!

Die geheim van die stokkie is dat hy weer aangegee moet word!  As ouer en onderwyser en leier lê jou sukses daarin as jy sien dat die stokkie /Evangelie suksesvol verder aangegee word... Dit beteken dat ons sukses daarin lê dat ons kinders hul kinders na die Here Jesus sal lei.

Hoe sal ons jeug die Here kan ken as ons ouers, onderwyser en leiers nie opreg met God lewe en die jeug met daad en woord oortuig nie? (Hoe sal jou buurman/ vrou, die mense met wie jy werk/ speel die goeie nuus hoor, as jy dit nie oorvertel nie?)

Ons moet so lewe dat ons kinders die evangelie self sal uitleef en verder sal dra - dit mag nie by jou en my stop nie. Gelukkig weet ons dat toe ons die doopbelofte afgelê het, God ook beloof het dat Hy ons die genade en die krag en insig sal gee wat ons nodig het om die kinders in sy Naam groot te maak.

Vers 7 eindig met “Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.”

Dit is God se uitnodiging aan ons vanmore om in ‘n intieme en eerlike verhouding met die Hom  te kom staan - Hy sal ons die krag en genade gee om die stokkie aan te gee...

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) 2 Timoteus 2:2 7 (2)
  • Bybelboek 2 Timoteus
  • Illustrasies & Hulpmiddels

    Reël aflos-resies met 4 vrywilligers.Benodig aflosstokkie, stophorlosie en geskenkies.

  • Voorgestelde liedjies & musiek

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

    2. Leesrooster 2004. BUVTON. CTP Boekdrukkers

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Koninkrykstyd
Gepubliseer in Preek
Vrydag, 03 April 2015 18:36

Dra mekaar se laste!

Ons word die afgelope weke baie bewus gemaak van die morele en sedelike verval van die mens wanneer ons hoor van hoe VIGS letterlik duisende afmaai en verkragtings van veral kinders is voortdurend op die nuus.  Ons kan makilk oordeel dat dit nie iets met ons te doen het nie – ons is mos kerkmense en ons kom die wette van God na. Ons is kerkmense en is darem in die kerk vanmôre – nie in die bed en winkels soos baie ander nie… ...En as ons eerlik wil wees... ontdek ons dat al ons kerkgebruike en godsdienstige gewoontes nie eintlik ‘n verkil aan die wêreld om  ons maak nie. Ons kerk het ‘n tyd lank aan die hele land voorgeskryf hoe om te lewe en reëls en regulasies gehad om die sosiale orde te reël en  te regverdig maar toe dié voorgeskrewe wette weggeneem word en die mens vetrou word om nou met sy eie gewete saam te leef, toe sien ons mense sonder ‘n begeerte om ddie wil van God te doen – sien ons mense wat net hulself en hul eie plesier en eie behoud in die oog het…

Ek het in die Bybel ontdek dat daar soortgelyke situasie beskryf word. Die brief aan die Galasiërs is ongeveer 50 nC geskryf aan mense wat die wet en die onderhouding daarvan oorbeklemtoon het en hulle het gedink dat dit vir hulle en vir heidene verlossing sal bring. In die 3e hoofstuk van Galasiërs verduidelik Paulus ernstig dat die onderhouding van al hierdie wette nie verlossing bring nie en dat dit ook veroorsaak dat mense afgeskrik word van die evangelie. Want wanneer mense tot bekering gekom het moes hulle eers Jode word en die joodse wette nakom voordat hulle as Christene beskou is.

In hoofstuk 3:19-25 verduidelik Paulus wat die regte doel van die wet is – nie om mense te red nie, maar om hulle in bewaring te hou totdat Jesus weer kom.  Verder wil hy dit sterk onder hulle aandag bring dat die wet wat die belangrikste is om na te kom in hierdie tyd waarop hulle vir Jesus wag – die wet van Christus is. En hy’t ook besef dat hy ook hierdie wet sal moet verduidelik ander gaan hulle weer hule eie interpretasie maak en daarom lees ons in Gal.5:14 “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Paulus het hierdie woorde aan die Galasiërs gestuur om hulle daaraan te herinner dat God nie daar is om hulle net met hulle persoonlike nood en vrees en tekorte en bedreigings te bedien nie nie, maar dat die gelowige ‘n verantwoordelikheid teenoor sy medemens het – ons moet mekaar se laste dra. Dit is die manier hoe jy medegelowiges help en hoe jy heidene vir die evangelie wen.
Hier in hoosftuk ses word verduidelik hoe jy die wet van Christus uitleef waar mense in sondigheid verval het.
Hier word verduidelik watter rol die Christen moet speel en hoe die Christen verlore en vervalle mense in ’n gees van sagmoedigheid kan reghelp. Ja, die gesindheid én veral die manier waarop ons dit doen, is belangrik.

Ek wil vanoggend twee verkeerde gedagtes wat baie Christene het oor die dra van mekaar se laste besweer en regstel:

1.Baie keer dink ’n mens jy kan nie iemand anders se las dra nie, want jy het self te veel laste.
Werk dit regtig so? Maak jou las dit vir jou onmoontlik om iemand anders te help?

In hierdie opsig dink ek altyd terug aan ‘n jeugkamp verlede jaar. Ons het een nag in die veld gaan slaap en die kinders moes net hul slaapsakke en eetgerei en warm klere saamdra - die meeste in P&P sakkies. Die kleintjies veral kon dit nie maak nie en ek, wat heel agter geloop het, sit toe met al die los en ongemaklike pakkies. Eers het ek dit aan ‘n stok oor my skouer gedra, maar dit wou nie werk nie. Later het ek ‘n stok dwars oor my twee skouers gesit en die pakkies weerskante gedra - en ek kon selfs nog meer pakkies ophang!

(Demonstreer mbv 2 emmers en hulp uit die gemeente.) Het jy al ‘n emmer water probeer dra? Mens loop so skeef-skeef want die emmer kap kort-kort teen jou knie en dan mors en spat die water boonop. Dit gebeur omdat jy ongebalanseerd is. Ja, jy’t dalk van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.
Al wat regtig help het, is om nog ’n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra. Op dié manier is jy meer gebalanseerd, loop jy baie makliker en niks water word gemors nie.

In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ’n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie. Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd.

Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, maak jy jou las “ligter”.

Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom ons te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op. So sal jy perspektief kry en verligting ervaar.

2. Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ’n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy.

Nou die dag ry ek in Pretoria en sien ‘n bordie wat waarsku dat dit “hi-jack territory” is. Met ander woorde ek ry daardie pad op eie risiko. En sou ek aangeval word – dan kan niemand anders blameer word nie – ek het diot op myself aangebring.
Die priester en Leviet het verbygestap want hulle het ook die pad geken en die  gevare daarvan en as hulle sou stop was hulle in groter gevaar! Maar ’n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp tsv die gevaar waarin hy hom nou begewe het. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.

In verse 7-10 vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan medegelowiges, maar ook aan nie-gelowiges (vgl ook 1 Tess 5:15). Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir mekaar se fisieke nood en behoeftes (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27). Belangrik om te onthou is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges, geld (Rom 12:20; Gal 5:14).

Het julle al gewonder hoekom die Evangelie so vinnig in Paulus se tyd versprei het?
Moderne navorsers soos Meeks, Malherbe en Theissen het antwoorde gesoek op die vraag waarom die vroeë Christendom so geweldig vinnig en ver versprei het. Hulle het uitgevind dat kwessies soos armoede en die sosiale omstandighede van mense aangespreek is.

Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse-ongelykheid is sover moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing van hierdie geleerdes is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ’n sisteem van ekonomiese onreg was.

Paulus herinner ons dan ook daaraan dat ons sal oes wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai in die land van selfsug, sal ons die dood oes (Rom 8:6, 13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die land van Gods Gees, sal ons die lewe oes. Ons moet aan onsself en ons belange sterf sodat Christus in ons gestalte kan kry. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.

Paulus moedig ons ook aan om nie moeg te word om goed te doen nie. Dit herinner sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Matt 25:31-46) LEES!. Hierin gaan dit oor eenvoudige, alledaagse dade van goedhartigheid wat ons moet doen, soos om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Maar dit wil lyk of dit juis hierdie ooglopende dinge is waarmee ons soms so sukkel.

Demonstreer met swaar emmer wat bedoel word met dra mekaar se laste. Vra 3 mense om 2 emmers te dra – maak las ligter en draaglik!

Ja, as daar een kerklike gewoonte is wat ons vandag met ons hele hart moet najaag en met ons hele lewe moet doen is dit die dra van mekaar se laste. So help ons die medegelowiges en so bring ons die ware evangelie aan baie mense in uiterste nood.

Sien raak wanneer ander mense swaar kry en help hulle. Tel hulle kruis op jou skouers en dra dit vir hulle. Moenie dat hulle alleen met hulle probleme, verpligtinge, skuld en ladings worstel nie. So doen ’n mens presies wat Christus van jou verwag. Dit is die mees praktiese manier om die Evangelie oor te dra!

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Galasiërs 6:1 10 (6)
  • Bybelboek Galasiërs
  • Illustrasies & Hulpmiddels

    2 Emmers, met gewigte (klippe), stok, vrywilligers.

  • Voorgestelde liedjies & musiek

     Liedboek: 417:1-2; 200:2,3; 530:1-3

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

     

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Koninkrykstyd
Gepubliseer in Preek
Vrydag, 03 April 2015 14:41

Vergifnis vra vergifnis - dit maak nuut!

Paassondag gaan oor nuut en vars lewe. Jesus het deur sy oorwinning oor die dood vir ons ‘n nuwe lewe – die ewige lewe – moontlik gemaak. Ek’t gewonder hoekom ons (Christene) nie nuut lewe nie? Hoekom is die lewe dikwels so afgesaag en treurig vir ons? Hoekom is dit nie altyd lekker om Christen te wees en om vir die kerk te werk nie?

“Nuut” behoort tog te beteken dat daar varsheid en aksie teenwoordig moet wees!
Die Nuwe Testament veral, is vol daarvan dat Christene nuut of selfs anders moet leef – dat ons ‘n verskil in die wêreld sal maak...

Ek dink daar is twee soorte “Nuut” waarvan ons vandag kennis moet neem. Maar voor ek  die twee soorte nuut verduidelik moet ek  eers vir julle die sleutel gee waarmee ‘n mens “Nuut” sal verstaan en daarom wil ek nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “vergifnis” op die bord te kom skryf/spel.

(Wanneer die persoon “vergifnis” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G.E.N.A.D.E.”. )

Ja, sonder genade kan daar nie sprake van nuut lewe wees nie! Die sleutel tot nuut leef is genade en om genade te ontvang moet jy vergifnis vra vir jou skuld.
Ons weet almal dat ons elke dag uit God se genade leef maar dit maak ons nie noodwendig nuut leef nie...

Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die  Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe lewe gegee het. Om meer te verstaan wat “nuut” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.

Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan iemand doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Vergifnis maak nuwe lewe moontlik!!!

Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy genade betoon en vergifnis gee, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar ‘n nuwe lewe gun soos wat hy ontvang het nie.

Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet.  Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar sou kon betaal, maar word nie vergewe nie. Die medeamptenaar se nuwe lewe word van hom weggevat en in die plek daarvan kry hy ‘n helse lewe in die  tronk.

Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy nuwe lewe ook weggeneem word – nie net word sy nuwe lewe weggeneem nie,  maar ook die van sy vrou en kinders!

Vergifnis is God se sleutel vir die nuwe lewe.
Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)

Ja, hier word ‘n voorwaarde vir vergifnis gestel. Jy moet eers vergewe, dan sal God jou vergewe.
Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.

  1. Gebruik doopbak as voorbeeld van God se ‘genadepoel’ – ons het dit almal nodig om te kan lewe (lewende water).
  2. Vra drie vrywilligers om om te help – elkeen gebruik om die volgende rolle te vervul. (Staan rondom genadepoel).


Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek voor die Koning vir vergifnis van jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.

Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe – DIE NUWE LEWE ontvang.  Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my  my sonde? - maar God stel ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.

Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis.  Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen.

Die gevolg
As jy jou verhard en hulle nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal  jy jou kans om van die genadepoel te drink ontneem word – sal jou nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en eentonigheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en  sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê  “soos deur vuur heen” wees.

Aan die ander kant, as jy jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om weer van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag nuut en vars maak!
(Die helpers kan gaan sit, dankie)

Nou mag julle vra “wat nou van die twee soorte nuut waarvan jy gepraat het?
1. Die eerste soort nuut is die keer waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis.

2. Die tweede soort nuut is die nuut wat ons elke dag moet lewe. Daarvoor het jy voortdurend vergifnis nodig. Die manier om dit te kry is om ander mense te vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook nuut kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld –verfgifnis!

Waarom is dit nodig dat ons moet weet van die twee soorte nuut?
Elkeen van ons sal moet besluit of ons waarlik nuut wil lewe en dit vir ons dorp en omgewing en die wye wêreld moontlik wil maak om nuut te lewe...

As amptenare van die Koning sal  ons vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om te vergewe!

Ons normale omgang met mekaar behoort die te wees van  mekaar in liefde vergewe.
Ons evangelisasie en sending-aksies  behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom.

Slot
God het jou wel van jou algemene sondigheid vergewe toe jy jou na Hom gekeer het, maar nou verwag Hy dat jy sal doen soos Hý. Jy moet reageer met vergifnis.

Jóú volgende vergifnis hang grootliks daarvan af of jy kan vergewe. Jou nuwe lewe hang af daarvan of jy nuwe lewe gee...

Hoe belangrik is God se vergifnis vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In hierdie gedeelte bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.

God het ons boonop gewys hoe vergifnis werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in vegifnis kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.

Wanneer ons nie vergifnis uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik NUUT te benader. Vergifnis moet vergifnis gee om nuutheid en varsheid te bring! Vergifnis is God se sleutel waarmee die nuwe lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van nuut – dood!

Geel strikkies
Ek sal  ‘n growwe fout begaan as ek julle vandag hier los en nie help om die eerste stap tot verginis te  neem nie. En daarom wil ek julle vertel van ‘n verhaal – eintlik ‘n liedjie.

Daar was ’n man in ‘n tronk wat sy familie in skande gesteek het. Hoe nader dit aan sy vrylating kom hoe banger was hy om huis toe te gaan. Sê nou maar hulle gaan hom verwerp? Hy skryf toe ‘n briefie en vra dat ‘n geel strikkie aan die boom gegang word as hy welkom is, anders sal hy maar net in die trein bly en verbygaan. Met sy aankoms was die hele boom vol geel strikkies!

Ons onderskat dikwels God se vergifnis en wonder of Hy ons nog wil hê.
As jy weer wonder of die Here jou wil hê, kyk op na die Golgota-gebeure want daar staan ‘n “boom” oortrek met geel strikke! Die Here nooi jou om na Hom toe te kom as jy vermoeid en belas is- as jy sonder vreugde is omdat jy ander nie die nuwe lewe gegun het nie, om nou die besluit te neem en reg te maak...

♦ Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal  verstaan: “wat sal jou help om nuut te lewe?”

♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe.
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.
♦ As dit jou voorneme is om uit dankbaarheid vir God se genade en vergifnis aan jou, nou ander mense en sake te vergewe, word jy nou genooi om stil op te staan en vir jou ‘n geel strikkie/ kaartjie van die kruis af te gaan haal as ‘n simboliese gebaar van jou besluit om nuut te leef en om ander die nuwe lewe te help kry. As jy nog eers wil dink daaroor kan jy gerus ‘n geel kaartjie neem om jou te herinner daaraan dat God op jou antwoord wag.

(Speel Willie Joubert se “Net U bloed” terwyl mense vorentoe stap.)

AMEN.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Matteus 18:21 35
  • Bybelboek Matteus
  • Illustrasies & Hulpmiddels

    Wit skryfbord of truprojektor.
    Doopbak (genadepoel) + Drie vrywillegers.
    Geel strikkies of kaartjies en hout kruis.

  • Voorgestelde liedjies & musiek

    Willie Joubert se liedjie - Net U bloed 
    Aanvangslied: lied 409:1-3
    Loflied: lied 417:1-2
    Offergawes: lied 308:4
    Slotsang: lied 422:1-3

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

    2. Liedboek van die NG Kerk

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Paasfees
Gepubliseer in Preek
Bladsy 2 van 2
BAIE WELKOM BY DIE NUWE DOMINEE.ORG.ZA - Die Woord vir almal! Liewe Bedienaar / Luisteraar van Die Woord. Het jy goeie Christelike boodskappe wat iewers in 'n boek, rak of rekenaar lê en stof vergaar in plaas daarvan dat dit mense se lewens verander? Voel jy dikwels dat dit hartseer...
Die tydperk na Pinkster – tot en met Advent – staan algemeen in die kerkjaar as gewone- of Koninkrykstyd bekend. Dit begin met Drie-eenheidsondag en eindig met die Sondag van Christus die Koning, net voor die adventseisoen en dus die volgende kerkjaar. Daar is geen besondere feeste (soos byvoorbeeld Advent,...

Registreer of teken in om te publiseer en/of kommentaar te lewer en nuus te ontvang

Nog nie 'n lid nie? Registreer

Soekfunksie

Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za

Google+