Jeugwerk

Sorteer volgens datum: Maart 2016

Sondag, 20 Maart 2016 06:43

Palmsondag & Groot Lydensweek

Intog in Jerusalem
In die kerklike jaar word Jesus se intog in Jerusalem op Palmsondag gevier, met verwysing na die palmtakke waarmee Jesus feestelik in Jerusalem verwelkom is (Joh 12:13).
 
Met Palmsondag begin die Groot Lydensweek, die laaste week van Jesus se lydensweg.  Die lydensweg na die kruis gaan deur die Groot Lydensweek.  Hierdie week omvat die sentrale gebeure van die Christelike geloof.
 
Ons bewys op Palmsondag hulde aan Jesus, en eer Hom as koning.  Dit geskied hoopvol, want die lydensweek loop op die halleluja van Paassondag uit.  Dit geskied ook somber, want die verheerliking van die nederige, dienende Koning op die donkie loop langs die weg van die kruis.
Lukas gee ‘n besondere perspektief op die Groot Lydensweek wat in Jerusalem afspeel.  Daarmee help hy ons om te verstaan hoe ons lewe, ons roeping, ons missie as gelowiges en as gemeente inskakel by Jesus se missie.
 
Palmsondag is die laaste van die Lydensondae. Dit is terselfdertyd die begin van Groot Lydensweek. Daar is dus die element van triomf by die intog in Jerusalem, maar daar is ook die besef dat Jesus gekom het om te ly en te sterf in hierdie einste Jerusalem! Hierdie twee elemente moet deurlopend op Palmsondag vasgehou word.
 
Vrydag dra ons somber klere/kleure.
Paassondag dra ons helder/bont kleure en bring blomme.
 
Gebruike: (Preekstudies met Liturgiese voorstelle, 2007/2008, bl 82)
• Deel kruisies uit wat uit palmblare gevleg is. Soms word klein houtkruise gebruik.
• Hou ’n optog met palmtakke deur die strate na die kerkgebou. Dit kan ook ekumenies georganiseer word. ’n Houtesel met ’n Christusbeeld daarop het eens deel van die optog gevorm.
• Die gemeente vergader buite die kerk en stap saam in prosessie die kerk binne. ’n Kruis kan gedra word. Die eerste gedeelte van die diensorde kan reeds afgehandel word waar die gemeente buite die kerkgebou byeenkom.Palmkruis
• Kinders dra palmtakke by die aanvang van die erediens of tydens die lofsang in en lê dit voor in die kerk. Sommige gemeentes sluit ’n bede in die openingsgebed in waarin gevra word dat die palmtakke getuienis lewer van die dag wat herdenk word.
• Die kerk word met palmtakke versier.
• Drapeer ’n swart doek oor die kansel met die oog op Groot Lydensweek.
• Waar Groot Lydensweek nie gevier word nie, word die gemeente geleentheid gebied om tydens die diens oor die “stasies van die kruis” na te dink.

Groot Lydensweek - die pas na Paasfees

• Palmsondag: Intog in Jesusalem – Matteus 21:1-11
• Maandag: Jesus word gesalf - Matteus 26:6-13
• Dinsdag: Jesus eet saam met sy dissipels - Matteus 26:26-30
• Woensdag: Jesus bid in Getsemane - Matteus 26:36-46
• Wit Donderdag: Jesus word gevange geneem - Matteus 26:47-50
• Goeie Vrydag: Petrus verloën Jesus - Matteus 26:69-75
                         Jesus word gekruisig - Matteus 27:27-61
• Stil Saterdag: Matteus 27:62-66
• Paasfees: Opstandingsondag - Matteus 28:1-9
  
Gebed:
Jesus, Man van Smarte,
Nederig wil ons U in daardie laaste pyngevulde dae op u lydensweg volg. Maak ons, deur u Heilige Gees, ontvanklik vir u boodskap.
- Palmsondag... Hosanna!
- Maandag... Maria salf Jesus se voete
- Woensdag... Judas se verraad
- Donderdag... Jesus was die dissipels se voete
- Goeie Vrydag... Kruisiging
- Stil Saterdag... Wag geduldig op die Belofte
- Paasfees! Opstandingsfees!
Loof die Here! Amen.

Uitnodiging!

Vul asseblief hierdie kort artikel aan met idees en projekte wat julle doen om Palmsondag en die Groot Lydensweek mee te vier. Onthou dat jul projekte ook op ons Kalender adverteer kan word! As jul gebede nodig het vir die projekte kan dit hier versoek word.

Bronne:
1.    Preekstudies met liturgiese voorstelle, 2007/2008 & 2010. Buvton
2.    Foto: Intog in Jesusalem. Kinderbybel 1960.

Grafieke en fotos: Kopiereg. www.dominee.org.za.
Saamgestel deur Dirk C Lourens (vdm). 14.02.2018. www.dominee.org.za.

Gepubliseer in Kerkjaar
Google+