Kitsboodskap
Kerkjaar - Dominee.org.za - Die Woord vir Almal!
Kerkjaar

Kerkjaar (5)

Sondag, 05 April 2015 01:07

Welkom

Geskryf deur

BAIE WELKOM BY DIE NUWE DOMINEE.ORG.ZA - Die Woord vir almal!

tafel Liewe Bedienaar / Luisteraar van Die Woord.

 Het jy goeie Christelike boodskappe wat iewers in 'n boek, rak of rekenaar lê en stof vergaar in plaas daarvan dat dit mense se lewens verander? Voel jy dikwels dat dit hartseer is om só hard aan 'n boodskap te werk en dit dan net een keer te gebruik en of tot een gehoor te beperk? Dan is dit tyd om jou boodskappe weer af te stof en nuwe lewe te gee. Moenie dat jou insigte en omgang met God verlore laat gaan nie. Stel dit beskikbaar op Dominee.org.za en jou boodskap sal aanhou preek! Laat jou boodskap voortleef en steeds mense se lewens verander!

Gemeentelede kan ook help deur hul leraars aan te moedig om hul boodskappe hier beskikbaar te stel of deur hul naam en kontakbesonderhede aan ons by "Kontak ons" te stuur sodat ons hulle kan uitnooi.

Woensdag, 01 April 2015 22:29

Paasfees en Paastyd

Geskryf deur

Paasfees is die hoogtepunt van die kerkjaar wanneer ons die opstanding van Jesus Christus uit die dood herdenk. Dit is byna asof gelowiges die oorwinning op Paasfees nie genoeg kan vier nie, en daarom strek die viering van die opstanding oor vyftig dae!
Paasfees word jaarliks op die eerste Sondag na die eerste volmaan wat volg op die herfs dag-en-nag ewening (21 Maart). Paasfees kan dus enige tyd gevier word vanaf 22 Maart tot en met 25 April. Die viering van Paasfees begin tradisioneel reeds teen sononder van Stil Saterdag.

 

PaastydKleure
Kleur speel 'n baie belangrike rol in Paastyd. Dit staan in skrille kontras met die somberheid van die kleure van Lydenstyd. Op Paassondag en deur die hele Paastyd is die dominante kleure wit en goud. Kleure van oorwinning en vreugde. Ander vrolike kleure wat die glorie van Christus se heerskappy oor die dood beklemtoon, kan ook gebruik word.
 
Simbole
'n Goudkleurige (sonkleurig) doek/kleed. Die sentrale simbool van Paasfees en die tyd daarna is lig wat deurbreek. Die opkomende son herinner ons elke dag aan Christus se oorwinning oor die dood.

Die Paaskers is die bekendste simbool en word tydens Pase sentraal in die liturgiese ruimte geplaas. Dit simboliseer die lig wat met Pase verskyn en word ook soms met ’n prosessie die kerk ingedra (hoogkerlike gebruik).

Dit is belangrik om ons huise en kerke in hierdie tyd met baie blomme te versier.

In die tyd van die opstanding is musiek en sang baie belangrik. Die vreugde oor die opstanding is so groot dat dit ons laat oorgaan in lofprysing.

 

Gebruike
Die vroeë kerk het Paasfees met ’n Paaswaak gevier wat die hele nag geduur het. Vandag word hierdie tradisie, in sommige gemeentes, voortgesit met ’n middernagdiens. ’n Meer moderne neiging is om Paasfees te vier met sonsopkoms die volgende dag. ’n Gewilde manier is ook om Paasfees met ’n gemeente-ontbyt vroeg die Sondagoggend te vier. Vir baie wat tydens Lydenstyd gevas het, is dit die geleentheid waar hulle dit breek.

Met die eerste teken van die Opstandinsdag, tradisioneel die eerste hanekraai, breek die vreugde van die oorwinning deur met die aansteek van die Paasligte of -kerse. Dit is ook 'n uitstekende dag vir die bediening van die doop en bevestiging van nuwe lidmate.
Ÿ
Verander jou status op Facebook, WhatsApp, ens. Gebruik 'n goudgeel agtergrond (met 'n son daarop) en plaas 'n gedagte of teksvers wat die opstanding vir jou vasvat.

Ons herinner mekaar op hierdie dag met die volgende woorde aan die grootste van alle dramas: die Heer het opgestaan, die Heer het waarlik opgestaan.

Kerke/gemeentes kan blomme/ruikers by die oues en siekes in die gemeente aflewer. Die hele gemeente behoort by die donasie vanen aflewering van die blomme betrokke te wees.
 

♦  Meer informasie hier beskikbaar.

Woensdag, 01 April 2015 22:35

Hemelvaart en Pinkster

Geskryf deur

PinksterDie dissipels was aan die treur oor Jesus se weggaan maar Pinkster het nuwe vreugde en ywer voortgebring omdat hulle nou besef het Jesus leef en dat die werk van God voortgaan met die Gees in hulle. Die een dag nog verslae en die volgende borrel die Evangelie uit hul monde en harte vir die wêreld om te hoor en aan te neem.

Pinkstertyd begin met die Hemelvaart-diens wat presies 40 dae na Opstandingsondag gevier word en eindig 10 dae later met Pinkstersondag. Pinskter is die tyd van die jaar wat ons “spring cleaning” in ons geestelike lewens doen sodat ons die wêreld vars en nuut met ons getuienis dat Jesus leef kan verander. Gewone mense die een dag en die volgende dag almal evangeliste!  Gemeenteprogramme behoort álmal te betrek, van klein tot groot, in die gemeente en omgewing.

 

Kleure
Rooi en goud simboliseer die tonge van vuur wat op Pinkstersondag verskyn het.

Simbole
Pinkster simbole plaas die klem of die taalwonder en die eenheid van die kerk aangesien dieselfde Gees in alle gelowiges woon.

‘n Duif, tonge van vuur of afwaartse pyl simboliseer die Heilige Gees. ‘n Reënboog of bootjie simboliseer die kerk.


Gesinne kan ‘n duif uit karton knip en op hul voordeure plak.


Swaardlelies en Strelitsias maak pragtige vuuragtige blommeruikers uit.


Gebruike
Die 10 dae tussen Hemelvaart en Pinkstersondag is ‘n tyd van afwagting en gebed tot die Gees om die Kerk met nuwe moed en krag met die Evangelieboodskap uit te stuur.

Die kerk het tradisioneel nuwe lidmate gedoop. Dit is ‘n goeie tyd vir reeds gedoopte lidmate om hul doopbelofte te hernuwe.


Dit is ‘n goeie tyd vir hulp aan die armes en gasvryheid teenoor vreemdes.


Uitstallings van kuns, handewerk, blomme, ensovoorts simboliseer op hierdie dag die Gees se gawes aan die gemeente.


Laat helium-gevulde balonne met evangeliese boodskappe daarin net na die Pinksterdiens vry.

Verander jou status op Facebook, WhatsApp, ens. Gebruik oranje of goue agtergrond met ‘n neerdalende duif op die voorgrond en plaas ‘n teks of gedagte wat jou sal aanvuur om te getuig daarop.


Gebruik Pinkster as finale voorbereidingstyd en afskopgeleentheid vir ‘n Evangelisasieveldtog in julle omgewing of iewers in die wêreld. As jou gemeente nie so iets doen nie kan jy die tyd gebruik om jouself gereed te maak om opnuut en vars getuienis te lewer waar jy werk, leer of speel. 

♦  Meer informasie hier beskikbaar.

Saterdag, 28 November 2015 15:57

Koninkrykstyd

Geskryf deur

KoninkrykstydDie tydperk na Pinkster – tot en met Advent – staan algemeen in die kerkjaar as gewone- of Koninkrykstyd bekend. Dit begin met Drie-eenheidsondag en eindig met die Sondag van Christus die Koning, net voor die adventseisoen en dus die volgende kerkjaar. Daar is geen besondere feeste (soos byvoorbeeld Advent, Kersfees, Lydenstyd, Paasfees en Pinkster) gedurende hierdie tyd op die kerklike kalender nie.

 

In die Suidelike Halfrond val Koninkrykstyd in die herfs en veral in die winter waartydens ons die groen van die natuur sien verdwyn. Ons beleef dus in Suider-Afrika, anders as in die Noordelike Halfrond, in hierdie seisoen van die kerkjaar die tekens van afsterwe en doodsheid. Reeds in Paastyd en Pinkster word ons egter uitgedaag om die krag van die opstanding te midde van hierdie sigbare tekens van doodsheid te verkondig, te bely en uit te leef.

 

Saterdag, 21 Mei 2016 09:29

Drie-eenheidsondag

Geskryf deur

KoninkrykstydDrie-eenheidsondag word sedert die tiende eeu gevier. Dit vind plaas op die eerste Sondag na Pinkster en die eerste Sondag van Koninkrykstyd. 


Nadat daar vir die eerste gedeelte van die kerkjaar (vanaf Advent tot Hemelvaart) op die betekenis van die lewe en werk van Christus gefokus is en tydens Pinkster op die werk van die Heilige Gees, word daar op hierdie Sondag gefokus op die Drie-eenheid – om daarmee te beklemtoon dat die groot heilsdade die werk van een God is.

Kleure
Drie-eenheidsondag se liturgiese kleur is wit en goud.

Simbole
Die kruis in die boot van Koninkrykstyd. 
triquetaAnder drie-eenheidsimbole is die triquetra of Drie-eenheids knoop, die fleur de lis of ’n klawerblaar.

Gebruike
Verander jou status op Facebook, WhatsApp, ens. Gebruik wit as agtergrond en plaas 'n gedagte of teksvers wat pas by die spesifieke Sondag se tema, bv. Spreuke 8; Psalm 8; Romeine 5:1-5.

Die vraag waarmee Christene hulle in Koninkrykstyd besig hou is: Hoe en waar kan ek die Koninkryk van God die beste dien?

Bid vandag dat die vrysparaak wat gelowiges in Christus gekry het 'n werrklikheid sal word in gesondhede soos genade, vrede, hoop en volharding.

KlawerUitnodiging!
Vul asseblief hierdie kort artikel aan met idees en projekte wat julle doen om Koninkrykstyd mee te vier. Onthou dat jul projekte ook op ons Kalender adverteer kan word! As jul gebede nodig het vir die projekte kan dit hier versoek word.

 

Bronne:
1.    Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar. Buvton/Communitas.
2.    Grafieke en fotos: Kopiereg. www.dominee.org.za.
3.    Triquetra simbool: http://symboldictionary.net/?p=159
Saamgestel deur Dirk C Lourens (vdm). 21.05.2016. www.dominee.org.za.

Kalender

« Mei 2018 »
Ma di wo do Vry za zo
  1 2 3 4 5 6
7 8 9 10 11 12 13
14 15 16 17 18 19 20
21 22 23 24 25 26 27
28 29 30 31      
Google+