Druk die bladsy
Dinsdag, 05 Maart 2019 23:06

Geloofsreaksie

Geskryf deur 
Beoordeel die item
(0 Stemme)

1.  Voorafsang

2.  Afkondigings

3.  Verwelkoming
Die jaar 2019 het in dolle vaart afgeskop;net soos die vorige jaar en die jaar voor dit. Gelukkig het sommige van ons darem nou senior status bereik wat ouderdom aanbetref; gevolglik is ons metabolisme so effens vertraag en is dit nie meer vir ons belangrik om aan die rotresies daarbuite deel te neem nie. Ek wil amper sê: “Ai, dit is darem lekker om ‘n oumens te wees”, maar ek sal my bewustelik weerhou daarvan om dit te sê terwille van my vrou wat weier om te erken dat ons oud is.

Broers en Susters, u is ‘n iedere en ‘n elk hartlik welkom vanoggend hier in die kerk. Mag ons samesyn vir u tot groot seën wees en mag dit bydra tot die versterking van ons geloof. Dit is juis die onderwerp waaroor ons vanoggend so ‘n klompie gedagtes gaan wissel. Dankie dat u kom luister het na die boodskap gebring deur ‘n eenvoudige rustende ouderling.

Ek merk op dat sommige van ons lidmate reeds terug is van die feestyd-verlof af. Ons innige dank aan ons hemelse Vader dat julle veilig terug is – ek wil nou nie “spekvet en gesond” byvoeg nie, want dit is mos juis ‘n pluimpie wat ons dames nie waardeer nie.


4.  Gebed
Kom ons bid. Here, ons wil vanoggend kom aansluit by Oom Angus Buchan en vir mekaar kom sê: “It is time”. Ja Here, dit is vandag ‘n wonderlike Sondag wat U vir elkeen van ons gemaak het sodat ons hier in u huis kan kom stilword in aanbidding voor ons enigste Verlosser en Heiland. Dankie vir u teenwoordigheid. Dit is ons eerbiedige gebed dat Uself vanoggend die dieper betekenis van u heilige Woord aan u gemeente sal verduidelik.  Amen 

5.  Votum
Die afgestorwe aktrise Wena Naudé het haar daarop geroem dat sy soms baie sterk uitgekom het oor ‘n saak. Hulle sê sy kon ‘n span osse teen ‘n styl bult uitdryf met haar ABC. Die Here kom groet u ook vanmôre  met die selfs nog kragtiger woorde van Jakobus 5: 7 en 8:  “Wag dan geduldig, broers (en susters), totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here”.

6.  Seëngroet
Daarom groet ek julle in die Naam van die Here wat gekom het, elke dag kom en eendag finaal weer sal kom.  Genade, vrede en vreugde vir julle almal.

7.  Kom ons begin hierdie heugelike geleentheid tot lof van die Here deur vir die Here te vra om ons elkeen te maak en te vorm volgens sy wil. Kom ons sing Lied 528: 1 en 2 -  Leer my u wil, Heer

8.   Die Wet van die Here
Ek gaan nie vandag die volledige Wet van die Here aan u voorhou nie. By wyse van afwisseling hou ek aan u voor Hebreërs 10 vers 16:  “Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” Ons sing nou dat ons die Wet wel verstaan, maar dat ons dit nie altyd gretig onderhou nie. Kom ons sing sittende Lied 235: 1. “Voor u wet Heer, staan ons skuldig”

9.  Skuldbelydenis en vergifnis
Vriende, nie een van ons kan vanoggend met ‘n skoon gewete bely dat ons nie die Wet van die Here oortree het nie. Maar ons hoef nie daarom in sak en as te gaan sit nie. Kyk net wat lees ons in Hebreërs 10 verse 11 tot 14 in hierdie verband. Dit sê: “Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak”. En dan nog verder vers 17 met die wonderlike woorde: “Dan sê Hy verder: ‘Aan hulle sondes en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie’”.

10. In aansluiting by dit wat ons so pas gelees het, sing ons nou sittende Lied 232 vers 1. “Diep o God, diep neergeboë”

11. Boodskap
Vriende, net voordat ek vir ons uit die Bybel lees, wil ek net ter inleiding vir u vergunning vra om so nou en dan die oordragtelike uitdrukking (oftewel die aaklige woord metafoor) van ‘n rugbywedstryd te gebruik om myself uit te druk; en daarom wil ek graag die “bal afskop” met ‘n vermaning wat uit ‘n interpretasie van die boek Openbaring (Hoofstuk 15) na vore kom en dit is dat niemand per ongeluk beoordeel word nie (die skeidsregter doen niks spontaan nie!). Net dié “baldraer” wat “skoppend” en skreeuend teen die genade van God voortbeur tot by die laaste aksie van God, word vertrap in die parskuip (skrum) van God se oordeel. En ek wil dit graag as ‘n baie belangrike kantlynaantekening aanhak by vanoggend se boodskap - dat die heiligheid en reinheid van God brand in oordeel oor alle ongeregtigheid en onheiligheid.

Ek lees vir ons voor uit Ps 44 verse 18 – 23: (Psalm 44 is op Bladsy 599 van my eksemplaar van die 83 vertaling) ”Al hierdie dinge het oor ons gekom, hoewel; ons u nie vergeet het nie en aan u verbond nie ontrou was nie. Ons het nie afvallig geword nie en van u pad nie afgewyk nie. Tog het u ons verwoes; ons land het ‘n puinhoop geword; U het die donker oor ons laat toesak. (die 53 vertaling het gesê ‘U het ons verbrysel in die plek van jakkalse’)”

Vers 21 kom met die vraag: “As ons die naam van ons God nie aangeroep het nie en ‘n vreemde god om hulp gevra het, sou God dit dan nie kon vasstel nie? Hy ken immers die geheime van die hart. Dit is oor U (ou vertaling ‘om U ontwil’) dat die dood ons gedurig tref, dat ons soos slagskape behandel word”.       
 
Ons tema vir vanoggend se korter as gewoonlike boodskap is eenvoudig die woord: “Geloofsreaksie”.

Broers en Susters en jongmense - ons oordenk vanoggend die een kernsaak wat in ons teks na vore tree – dat ons geloofsreaksie as gelowige altyd in God se Woord geanker moet wees. Ps 44 stel ons voor ‘n lewensfeit;  en dit is dat ons lewe baie keer een groot raaisel is. Dink jouself vir ‘n oomblik in hoe die Here baie kere in ons lewe soms swyg en stilword. En ook stilbly! Hoe ons baie kere nie kan verstaan hoe ons liefdevolle Here sekere dinge in ons lewe toelaat nie, soos byvoorbeeld wanneer ‘n  mede-christen iets van jou steel.  En ons ken almal gelowiges vir wie hierdie dinge dit baie moeilik maak in hulle geloofslewe, en hulle sommer vir die kerk ook kwaad is.

Hoe moet ons daarna kyk? Ps 44  help ons verseker met die antwoord. Dit gee vir ons ‘n hemelse perspektief oor hoe die mens baie keer teenoor God reageer. Terwyl ons die Here nie altyd verstaan nie. Hoe ons lewe baie keer uitwerk. Hoe ons lewe baie keer snaakse draaie maak. Hoe ons lewe baie keer totaal omgedraai het. Hoedat jy soms aan die kortste end trek.

Hoe dit ookal sy; hierdie omgekeerde lewe is nie net altyd ‘n raaisel nie, maar ook meeste van die kere een groot geloofsworsteling. En  dit is ‘n gevaarlike plek om te wees. En nou is die vraag – hoe moet ons as gelowiges daarna kyk? In die eerste plek is ons menslike reaksie  opgeteken in vers 18 – 22.     Ps 44  is ‘n Klaaglied geskryf deur die Koragiete; nie deur Dawid nie. Dit weet ons.  En wat ons hier kry is dat die omstandighede waarin hulle hier in Ps 44 verkeer, word vergelyk met dit wat in die verlede gebeur het. Hulle land is deur hulle vyande verwoes. So; noodwendig sit die volk van die Here in ‘n geestelike krisis. Hulle sit met ‘n klomp vraagtekens. En dit be-invloed hulle geloof.

Kom ons vra sommer reguit - Waarmee is die Here besig in jou en my lewe? Want geliefdes, neem bietjie jou eie lewe, neem jou eie roeping. Daar is ‘n verskil tussen “roeping” en “nering”, maar dit is ‘n gedagte vir ‘n ander dag.  Maar die meeste van ons is meestal 100% roepingsbewus en roepingsgedrewe. Ons is elke dag so besig en so gefokus met ons nering, so gemotiveerd – en wat baie keer gebeur; omdat ons letterlik met ons neuse en met koppe insak (in die skrum van die lewe) en indryf in ons roeping (wat nie op sigself noodwendig verkeerd is nie!) word ons baiekeer deur die omstandighede in ons roeping ge-irriteer oor een rede –  die eise wat ons roeping stel, maak ons moedeloos; ons raak negatief, ons raak kwaad, ons raak gefrustreerd, en ons raak geestelik ook ge-irriteerd, en dan gee ons sommer die Here die skuld vir alles.

Oor een rede; ons is so besig om in die skrum in te dryf, en in die lystane te spring, om gemotiveerd voort te gaan dat ons vergeet om net vir ‘n tree of twee terug te staan en rustig te raak; die dinge weer in perspektief te sien; te bid oor die saak – dat ons op die ou end verkeerd daarop uitkyk, en die skuld dalk op iemand anders pak, selfs op die Here pak. Oor een rede –  ek as kind van die Here, sien dalk nie meer my ware “roeping” (wat niks met ‘n “nering” te doen het!) raak nie, omdat ek so verstrengel is in die kraaines van my eie lewe, dat daar ‘n irritasie en frustasie oor my en jou neersak.

Jou geloofsdraadjie word korter, jou selfbeheersing glip by die kant van die skrum uit; en jy begin die Here kwalik neem; jy begin die skuld uitpak; jy begin klagtes uitslinger; jy begin vingerwys; jy begin dalk negatief raak oor die “rugbyspel” van die lewe.

En dan begin jy in ‘n ongehoorsame geloofskind ontaard, want iemand moet die skuld kry. Dit is presies die probleem wat Ps 44 aanspreek. Die volk van die Here is letterlik in ‘n sekere toestand, en hulle weet nie hoe hulle dit moet lees nie. Hulle weet nie hoe hulle daarop moet reageer nie. 

Ons lees tussen die lyne in ons teksverse die ongeduldige taal: “So kan dit nie aangaan nie. Iewers is hier iets groot fout”. In plaas daarvan om hulle geloofsneuse uit hulle omstandighede uit te haal, ‘n tree terug te gee en te besin en te worstel om die Here te begryp en te verstaan, gaan hulle eerder voort van kwaad tot erger. Gaan hulle eerder voort van klagte tot klagte.

Hulle sê teenoor die Here in verse 18 en 19:   “Al hierdie dinge het oor ons gekom. Hoewel ons U nie vergeet het nie, en aan u verbond nie ontrou was nie. Ons het nie afvallig geword nie, Here. Ons het nie van die pad afgewyk nie”. So asof hulle vir die Here wil sê: “Kyk na ons kant van die verbond. Ons het die verbond nagekom. Kyk in watse omstandighede het U ons nou ingelei”. Daardie tipe gesindheid van: “Here, kyk hoe lyk my outobiografie. Kyk hoe lyk my volk s’n. Dis mos nie ons skuld dat ons in hierdie omstandighede is nie!

Ons wat in die era van tegnologie leef. Alles werk met elektroniese knoppies. As ek ‘n knoppie druk, dan gebeur iets. Ons het al so gewoond geraak aan al die knoppies rondom ons – ons karre, ons huise, ons radio’s, TV’s, selfone, rekenaars en noem maar op! As ek maar net die regte knoppie druk, gebeur die dinge. Die volk pas hierdie knoppiefout toe op hulle Godsdiens en op hulle geloof.

Maar ons doen ook dieselfde. Broer, Suster, jongmens – die Here werk nie so nie. Ons kan hom nie met ‘n knoppie aan- of afskakel nie. Hy staan nie in ons diens nie. Maar die vraag is nou in die lig van Ps 44 vers 23 – hoe moet ons die Here verstaan?

Dit bring ons by ons tweede punt. God se doel en God se antwoord in vers 23. Die Here wil iets vir ons van Hom leer, want daardeur leer Hy ons ook iets van onsself. Ons kan Hom nie in ‘n denksisteem indruk nie. Ons kan nie die Here manupileer nie. Ons kan hom nie forseer om aan ons gehoorsaam te wees nie. Die psalmdigter is nog steeds moedeloos. Vanuit sy mond in vers 23, gelei deur die Heilige Gees, lê die Goddelike antwoord in sy moedeloosheid. Hy sê: “Dit is oor U dat die dood ons gedurig tref, en dat ons soos slagskape behandel word”. Interessant, die Koragiete kom met ‘n verskuilde klag, en God kom en Hy kom openbaar deur daardie selfde klag sy Goddelike geheim, sy Goddelike rede, sy Goddelike antwoord oor waarom die Koragiete hierdie swaarkry, hierdie martelaarskap kan raaksien en verstaan, want in Jesus Christus bereik hierdie werk van God ‘n hoogtepunt. Jesus is ook soos die Koragiete met bespotting, met vernedering en vervolging behandel. Jesus het ook soos die Koragiete die Godverlatenheid gesmaak. Hy het ook, soos die Koragiete onskuldig gelei.

In Jesus Christus het die klag van die Koragiete ‘n klimaks bereik. In Jesus christus lê die sleutel om hierdie werk van God te begryp. Vers 23 sê: “Om u ontwil word ons die hele dag gedood. Om u ontwil word ons gereken soos slagskape”.

Dit is nogal interessant om te gaan lees dat Paulus hierdie selfde woorde in Romeine 8:36 aanhaal, waar daar geskrywe staan: “Om u ontwil word ons die hele dag gedood. Ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het”.

“Om u ontwil”. Daarin lê die Goddelike antwoord. Agter alles wat hier op aarde gebeur. Ons is hier ter wille van Christus: “Om u ontwil”. Hierdie swaarkry, hierdie geloofsworstelinge –  alles is maar net littekenes en geloofswonde in die skaduwee van Christus se eie wonde. Want in en deur sy wonde (so sê Jesaja 53), het daar vir ons genesing gekom. Hy gee vir ons rede tot troos. Hy gee vir ons rede sodat ons kan verstaan. Hy gee vir ons ‘n antwoord. God gee vir ons in Christus die Goddelike rede agter die geloofskerms waarin ons gewikkel is, want Hy het die stryd vir ons gestry sodat ons “om sy ontwil”, kragtens sy bloed kan staande bly in die geloof. En daarom openbaar God aan ons deur Christus dat ons geloofsreaksie as gelowige altyd in God se Woord geanker moet wees.

Maar dit lyk vir my of ons in die werklike lewe presies die teenoorgestelde reaskie kry. Ek sidder partykeer as ek mense se geloofsreaksies sien wanneer mense teleurgestel word. Dit is dan dat hulle alles behalwe optree soos iemand wie se reaksies in God se Woord geanker is.

Kom ons sny ‘n bietjie nader aan die been. Hoekom gaan mense nie meer kerktoe nie? Of gaan wel kerktoe, maar dan net wanneer dit hulle behaag!  En wanneer jy hulle daaroor konfronteer, volg daar so ‘n “dik” stilte. In hulle benadering vergeet hulle ongelukkig van die gebiedende instruksie in Hebreërs 10 vers 25 wat sê:  “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom”.

En u moet my asseblief nou maar verdra as ek miskien op ‘n seer liddoring trap, maar die vraag kom onwillekeurig by my op – bly hulle weg van die eredienste omdat hulle ‘n geloofswroeging binne hulleself ervaar soos die Koragiete en sê: “ek word soos ‘n slagskaap behandel”, of is dit bloot omdat hulle nie ernstig genoeg met hulle aanbidding van die Here is nie?

Of, nog erger, is dit dalk sommer net gewone geloofsonsekerheid? Ek het ‘n ou vriend wat nogal soms ‘n baie ernstige saak met oënskynlike ligsinnigheid aanspreek. So vra hy byvoorbeeld die volgende vraag wanneer hy met mense korswel oor hulle geloof. Hy vra:  “As Aspoestertjie se skoen dan so perfek gepas het, hoekom het dit dan uitgeval”?

Vrinne, wat ookal die antwoord op die geloofsvraag is; dit kan net behoorlik aangespreek word indien ons soos Juantia du Plessis in haar liedjie sê: “Draai terug. Suid-Afrika, draai terug”.

Ek sluit af met die bekende verhaal van Ken Mansfield. Onthou u hom? Hy was die bestuurder van die Beatles se musiek – dieselfde Beatles wat geproklameer het dat hulle meer gewild as Jesus is!  Hy sê hy het wonderlike tye saam met die Beatles beleef, maar sy persoonlike lewe het getaan totdat hy ‘n nulpunt bereik het.

En toe het hy Jesus in sy lewe gevind. Maar dit het slegs gebeur nadat hy talle geloofsvrae gevra het, en alles probeer het om die Here te blameer vir alles. Ná sy bekering het Mansfield besef hoe leeg die lewe saam met die Beatles was, in vergelyking met 'n lewe volgens die weg van Jesus. Hy het later gesê dat Die Vader, Seun en Heilige Gees die bron was van die lewenskoers wat hy nodig gehad het. Hy gaan voort en sê:  “Ek het die onweerlegbare, heilige Woord van God nodig gehad: woorde van die almagtige Vader, die skepper van die oseaan van die lewe waarop ek so verlore was."

Liewe vriende, daar is een ding wat elkeen van ons (soos Mansfield) moet onthou – dit is ons wat los; die Here los nooit nie.
Amen

12.  Kom ons bid
Ons hemelse Vader, ons dank en ons loof U vir u genade. Dankie dat ons vanuit Psalm 44 vanoggend kan rustig raak – ‘n psalm wat ons laat inkyk op die volk se moedeloosheid, die volk se sonde, die volk se teneergedruktheid ná daardie geloofsvrae. Maar dankie dat ons deur u genade ook weer kan uitkyk – uitkyk in die lig van Romeine 8 dat ons weet die antwoord lê in Christus. Daar is ‘n rede waarom U sekere dinge oor ons lewenspad stuur – dinge wat ons nie verstaan nie, dinge waaroor ons soos slagskape hanteer en behandel word. Maar dankie dat ons kan weet dat u seun Christus vir ons die pad gestap het, “om u ontwil” sodat daar deur Christus se wonde vir ons geloofsgenesing gekom het. Sodat ons kan verstaan waarom goeters met ons gebeur. Dankie vir daardie perspektief vanuit u Woord. Lei ons deur die Heilige Gees sodat ons hierdie woorde kan prakties maak in ons lewe. Dat ons dit elke dag sal glo daar waar ons vraagtekens het. Daar waar ons u knoppies wil druk sodat U na ons moet luister. Dat ons nederig dit sal afsterf. Dat ons bekering sal ondergaan en dat ons voor U sal kniel. Gaan met ons verder vandag; ‘n dag wat U vir ons gegee het sodat ons op u roepstem sal antwoord en dat ons u Woord ook sal uitdra na die wêreld daarbuite. Lei ons deur u Heilige Gees. Om Christus ontwil. Amen.

13.  Geloofsbelydenis
U sou opmerk dat ek vanoggend nogal buitengewoon konsentreer op sang. Die goeie rede daarvoor is dat, soos u weet, dit vandag my laaste besoek aan u gemeente is (ten minste vir die huidige) en dat ek gemeentesang baie belangrik beskou en hoog aanslaan. Daarom gaan ons vanoggend die geloofsbelydenis so 'n bietjie aanpas deur sittende te sing: Lied 508 verse 1 en 2. Brs en suster, terwyl ons sing, dink ons daaraan dat hierdie Here van wie ons sing, ons enigste God en Saligmaker is en dat ons onwrikbaar in Hom glo, en dat ons nie net glo nie, maar ook verseker weet dat Hy ons sondes kom vergewe het. Ons sal eendag rekenskap moet gee, ja, maar daar sal nooit in der ewigheid vir ons ‘n oordeelsdag wees nie, want ons sondes is reeds vergewe. Kom ons sing hierdie lied met deernis.

14.  In aansluiting by die lied wat ons gesing het, noem ek graag vir u die woorde van 1 Joh 4:15: “Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God”.

15.  Kollekte
U kry nou geleentheid om die Here met u offergawes te dien.
Gebed: Dankie Here, dat ons U ook met ons offergawes kan dien. Gebruik dit tot die eer en uitbreidng van u naam op aarde. Amen

16.  Afsluiting Lied 282: 1 tot 5 (vir ons land)

17.  Uitspreek van seën
Dierbares, die Here stuur julle vanmôre hier uit met die boodskap van Openbaring 16: 20 wat sê: “En die vrede van God sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle”. Broer en Suster, mag Hy jou bo alles seën met sy teenwoordigheid, jou geloof versterk, jou hoop onwrikbaar gevestig hou en jou hart altyd getrou maak.  So seën die Drie-enige God julle, van nou af tot in ewigheid. (Gemeente sing Amen)


Ouderling Louis Radyn - Sondag 6 Januarie 2019: Scottburgh.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16): Psalm 44:18 23
  • Bybelboek: Psalms
  • Tydsduur (bv. 15 min): 60 minute
  • Kalender (periode): Epifanie
Lees 1501 keer Datum verander Donderdag, 25 April 2019 14:44
L Radyn

Afgetrede landdros. Sedert 1986 'n leke prediker in die NG Kerk.