![]() |
Dominee.org.za Die Woord vir almal! |
Ons word die afgelope weke baie bewus gemaak van die morele en sedelike verval van die mens wanneer ons hoor van hoe VIGS letterlik duisende afmaai en verkragtings van veral kinders is voortdurend op die nuus. Ons kan makilk oordeel dat dit nie iets met ons te doen het nie – ons is mos kerkmense en ons kom die wette van God na. Ons is kerkmense en is darem in die kerk vanmôre – nie in die bed en winkels soos baie ander nie… ...En as ons eerlik wil wees... ontdek ons dat al ons kerkgebruike en godsdienstige gewoontes nie eintlik ‘n verkil aan die wêreld om ons maak nie. Ons kerk het ‘n tyd lank aan die hele land voorgeskryf hoe om te lewe en reëls en regulasies gehad om die sosiale orde te reël en te regverdig maar toe dié voorgeskrewe wette weggeneem word en die mens vetrou word om nou met sy eie gewete saam te leef, toe sien ons mense sonder ‘n begeerte om ddie wil van God te doen – sien ons mense wat net hulself en hul eie plesier en eie behoud in die oog het…
Ek het in die Bybel ontdek dat daar soortgelyke situasie beskryf word. Die brief aan die Galasiërs is ongeveer 50 nC geskryf aan mense wat die wet en die onderhouding daarvan oorbeklemtoon het en hulle het gedink dat dit vir hulle en vir heidene verlossing sal bring. In die 3e hoofstuk van Galasiërs verduidelik Paulus ernstig dat die onderhouding van al hierdie wette nie verlossing bring nie en dat dit ook veroorsaak dat mense afgeskrik word van die evangelie. Want wanneer mense tot bekering gekom het moes hulle eers Jode word en die joodse wette nakom voordat hulle as Christene beskou is.
In hoofstuk 3:19-25 verduidelik Paulus wat die regte doel van die wet is – nie om mense te red nie, maar om hulle in bewaring te hou totdat Jesus weer kom. Verder wil hy dit sterk onder hulle aandag bring dat die wet wat die belangrikste is om na te kom in hierdie tyd waarop hulle vir Jesus wag – die wet van Christus is. En hy’t ook besef dat hy ook hierdie wet sal moet verduidelik ander gaan hulle weer hule eie interpretasie maak en daarom lees ons in Gal.5:14 “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Paulus het hierdie woorde aan die Galasiërs gestuur om hulle daaraan te herinner dat God nie daar is om hulle net met hulle persoonlike nood en vrees en tekorte en bedreigings te bedien nie nie, maar dat die gelowige ‘n verantwoordelikheid teenoor sy medemens het – ons moet mekaar se laste dra. Dit is die manier hoe jy medegelowiges help en hoe jy heidene vir die evangelie wen.
Hier in hoosftuk ses word verduidelik hoe jy die wet van Christus uitleef waar mense in sondigheid verval het.
Hier word verduidelik watter rol die Christen moet speel en hoe die Christen verlore en vervalle mense in ’n gees van sagmoedigheid kan reghelp. Ja, die gesindheid én veral die manier waarop ons dit doen, is belangrik.
Ek wil vanoggend twee verkeerde gedagtes wat baie Christene het oor die dra van mekaar se laste besweer en regstel:
1.Baie keer dink ’n mens jy kan nie iemand anders se las dra nie, want jy het self te veel laste.
Werk dit regtig so? Maak jou las dit vir jou onmoontlik om iemand anders te help?
In hierdie opsig dink ek altyd terug aan ‘n jeugkamp verlede jaar. Ons het een nag in die veld gaan slaap en die kinders moes net hul slaapsakke en eetgerei en warm klere saamdra - die meeste in P&P sakkies. Die kleintjies veral kon dit nie maak nie en ek, wat heel agter geloop het, sit toe met al die los en ongemaklike pakkies. Eers het ek dit aan ‘n stok oor my skouer gedra, maar dit wou nie werk nie. Later het ek ‘n stok dwars oor my twee skouers gesit en die pakkies weerskante gedra - en ek kon selfs nog meer pakkies ophang!
(Demonstreer mbv 2 emmers en hulp uit die gemeente.) Het jy al ‘n emmer water probeer dra? Mens loop so skeef-skeef want die emmer kap kort-kort teen jou knie en dan mors en spat die water boonop. Dit gebeur omdat jy ongebalanseerd is. Ja, jy’t dalk van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.
Al wat regtig help het, is om nog ’n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra. Op dié manier is jy meer gebalanseerd, loop jy baie makliker en niks water word gemors nie.
In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ’n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie. Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd.
Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, maak jy jou las “ligter”.
Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom ons te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op. So sal jy perspektief kry en verligting ervaar.
2. Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ’n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy.
Nou die dag ry ek in Pretoria en sien ‘n bordie wat waarsku dat dit “hi-jack territory” is. Met ander woorde ek ry daardie pad op eie risiko. En sou ek aangeval word – dan kan niemand anders blameer word nie – ek het diot op myself aangebring.
Die priester en Leviet het verbygestap want hulle het ook die pad geken en die gevare daarvan en as hulle sou stop was hulle in groter gevaar! Maar ’n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp tsv die gevaar waarin hy hom nou begewe het. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.
In verse 7-10 vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan medegelowiges, maar ook aan nie-gelowiges (vgl ook 1 Tess 5:15). Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir mekaar se fisieke nood en behoeftes (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27). Belangrik om te onthou is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges, geld (Rom 12:20; Gal 5:14).
Het julle al gewonder hoekom die Evangelie so vinnig in Paulus se tyd versprei het?
Moderne navorsers soos Meeks, Malherbe en Theissen het antwoorde gesoek op die vraag waarom die vroeë Christendom so geweldig vinnig en ver versprei het. Hulle het uitgevind dat kwessies soos armoede en die sosiale omstandighede van mense aangespreek is.
Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse-ongelykheid is sover moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing van hierdie geleerdes is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ’n sisteem van ekonomiese onreg was.
Paulus herinner ons dan ook daaraan dat ons sal oes wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai in die land van selfsug, sal ons die dood oes (Rom 8:6, 13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die land van Gods Gees, sal ons die lewe oes. Ons moet aan onsself en ons belange sterf sodat Christus in ons gestalte kan kry. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.
Paulus moedig ons ook aan om nie moeg te word om goed te doen nie. Dit herinner sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Matt 25:31-46) LEES!. Hierin gaan dit oor eenvoudige, alledaagse dade van goedhartigheid wat ons moet doen, soos om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Maar dit wil lyk of dit juis hierdie ooglopende dinge is waarmee ons soms so sukkel.
Demonstreer met swaar emmer wat bedoel word met dra mekaar se laste. Vra 3 mense om 2 emmers te dra – maak las ligter en draaglik!
Ja, as daar een kerklike gewoonte is wat ons vandag met ons hele hart moet najaag en met ons hele lewe moet doen is dit die dra van mekaar se laste. So help ons die medegelowiges en so bring ons die ware evangelie aan baie mense in uiterste nood.
Sien raak wanneer ander mense swaar kry en help hulle. Tel hulle kruis op jou skouers en dra dit vir hulle. Moenie dat hulle alleen met hulle probleme, verpligtinge, skuld en ladings worstel nie. So doen ’n mens presies wat Christus van jou verwag. Dit is die mees praktiese manier om die Evangelie oor te dra!
2 Emmers, met gewigte (klippe), stok, vrywilligers.
Liedboek: 417:1-2; 200:2,3; 530:1-3
1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.
Oorweeg asb 'n donasie vir die instandhouding en ontwikkeling van Dominee.org.za