Preek

Soekresultate: Genesis 3:2 21

Sondag, 05 April 2015 00:28

God is by jou selfs in moeilike tye

Soms verstaan ons nie die pad wat die Here met ons loop nie. Dis soms ook so moeilik om te verstaan hoekom sekere dinge met ‘n mens gebeur.In sulke tye voel ons dat God so ver van ons is en dan kan ons so maklik na mense gaan om ons te help met ons probleme. Josef het niemand gehad nie, behalwe God toe hy in allerlei moeilike omstandighede val. Hy was die jongste seun en sy broers het nie baie van hom gehou nie omdat hulle gevoel het hulle pa trek hom voor. Op ‘n dag het hulle hom aan Midianitiese handelaars verkoop en dié het hom weer in Egipte aan Potifar, ‘n amptenaar van die farao, verkoop. Potifar het hom later in beheer van sy huishouding gestel.Maar sy vrou het egter ander planne gehad en Josef probeer verlei.Toe hy weier, het sy hom vals beskuldig en hy is in die tronk gegooi. Maar, vertel die Bybel vir ons, ook in die tronk was die Here by Josef.  Ons lees in die verhaal van vier dinge wat gebeur as God by ons is veral in tye van nood.

 

1.       Jy sal God se seёn ervaar
2.       Jy sal versoek word
3.       Jy sal die regte dinge doen
4.       Jy sal God se liefde ervaar

 Jy sal God se seen ervaar
Wanneer dit goed gaan met ‘n mens kom mense dit gewoonlik agter. Miskien veklap jou kleredrag dit, jou glimlag, jou opgewektheid, jou ywerigheid by die werk of skool. Soms wens mense hulle het ook daardie ywerigheid, daardie “iets” anders. Hulle sal soms opmerkings maak daaroor of jou komplimenteer bv jy lyk so anders vandag of het jy jou hare laat doen? Gewoonlik sê ek net “dankie, al die eer kom die Here toe!” Dit is eintlik die Here se teenwoordigheid in jou lewe wat die verskil maak.Kan mense Christus in jou doen en late sien? Mense sal en moet nie anders kan as om dit raak te sien nie. Dit is wat met Josef gebeur het.Potifar het gesien dat die Here by Josef was en was Josef goedgesind. Hy het Josef oor al sy besittings aangestel en hom tot sy persoonlike slaaf bevorder. As gevolg van  Josef  het God die huis van Potifar geseёn. As gevolg van jou kan die Here jou huisgesin, jou werkgewer, jou skool, jou vriende en ja jouself seen. Selfs in die posisie as slaaf, ver van sy vader se huis, in ‘n vreemde land, in so ‘n ongewenste situasie, was God by Josef.God is nie ver nie, Hy is by jou selfs in moeilike omstandighede.

Jy sal versoek word
Niemand is gevrywaar van versoekings nie, selfs nie eers ‘n christen nie. Hoe ons hierop reageer, dit is wat saakmaak.Ons moet versoeking erken en weet waarvandaan dit kom, dat dit sonde sal voortbring as ons daaraan toegee.Soms wanneer die versoeking kom, dan gee ons toe en wanneer ons dan in die moeilikheid is dan gee ons die skuld vir God. Nee! Jak. 1:13-14 sê “Iemand wat in versoeking kom moet nooit sê: Ek word deur God versoek nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.”Dus as ‘n mens verlei word is dit dikwels ons eie skuld. As daar nou sonde in jou lewe is, moet ons onmiddellik stop daarmee, voordat dit te ver gaan sodat daar vir jou geen omdraai kans is nie. Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei, het hy blatant geweier! Hy het die versoeking erken vir die sonde wat dit teenoor God sal voortbring  as hy sou toegee. Hy het selfs gedink aan die vertroue wat Potifar in hom gestel het deur dat hy hom oor alles aangestel het en hy wou nie misbruik maak daarvan nie en die grense wat Potifar gestel het ook nie oortree nie. Dit spreek boekdele van sy geloofsoortuiging, lojaliteit en toewyding.  Maar die vrou het aangehou soveel so dat hy later moes vlug.

Jy sal die regte dinge doen
Baiekeer as ons in versoeking kom, gee ons so maklik in as gevolg van groepsdruk, vriende, populariteit, om in te wees, omdat dit my baas is. Ons doen dinge om die verkeerde redes. Agterna is ons soms spyt, maar een gevolg van spyt is: dit kom altyd te laat. Dit was immers Potifar se vrou hoe kon hy vir haar “nee” sê, hy sal mos sy werk verloor, wat nog van sy status, sou hy kon dink.  Sy sou hom dalk in onguns bring by Potifar of hom vrylaat? Toe sy nie haar sin kry nie, het sy hom valslik beskuldig. En omdat hy gekies het om die regte ding doen, was die tronk sy beloning. Maar selfs daar was God by hom. Josef het aan God gedink en wat se sonde dit sou voortbring as hy sou toegee. Elke keer wanneer ons voor so ‘n situasie kom moet ons onsself afvra: “What would Jesus do?” Turn your eyes upon Jesus. Ons moet ons rug draai op die sonde. Om die regte ding te doen, beteken soms dat ons in onguns by mense kom. Maar liewer in onguns by mense as in onguns by God.

Jy sal Sy liefde ervaar
Partykeer weet ons baie gou waar die huis is as ons in die moeilikheid op straat kom met vriende of selfs na ‘n moeilike dag by die werk. Dan weet ons die enigste veilige plek is die huis, by ma en pa waarheen ons kan vlug. Daar sal ons veilig wees, daar sal ons aanvaar word en daar kan ons net wees. As christen waarheen gaan u as u in die moelikheid is? Ps. 46:2 sê “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” Dis juis wanneer ons in nood verkeer dat God baie naby ons is.Selfs in die tronk het God vir Josef Sy troue liefde laat ondervind. Ps 23:4sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie, want U is by my, in U hande is ek veilig.” Josef het geweet God was by Hom, daarom  kon hy vlug, want God was nog altyd daar. Hy ken sy God, hy het presies geweet waartoe sy God instaat is. Hy het hom uit die put van die dood gered, Josef het Sy guns ervaar in Potifar se huis, God sal hom hieruit ook red. Waar is u nou op u lewenspad? In watter situasie bevind jy jou? Voor watter keuse staan jy? Weet jy wat jy moet doen? Weet jy watter kant toe? Neem dit na God! In Joh.14:6 sê Jesus: “ Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur my nie” Jesus is die weg na God toe. Kom na God, doen die regte ding en jy sal Sy vegifnis, Sy seen en troue liefde ondervind!
Amen

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Genesis 39:1 23 (1)
  • Bybelboek Genesis
  • Tydsduur (bv. 15 min) 10 minute
Gepubliseer in Kitsboodskap
Saterdag, 04 April 2015 23:55

God is met ons wanneer dit goed gaan en wanneer ons swaarkry

Dinge werk in hierdie lewe werk nie altyd uit soos ons wil hê dit moet nie. Soms droom ons groot drome van wat ons in die lewe wil bereik en baie gevalle werk daardie droom nie uit nie. Hoe bly mens staande wanneer jou drome in skerwe by jou voete lê?

Wat het van Josef se drome geword? Hy het hierdie visie gekry dat hy ’n heerser gaan wees en waar staan hy nou? ’n Slaaf! Wat het hy nou eintlik gedoen om dit te verdien? Hy was wel bietjie grootpraterig en ja, hy het sekerlik sy broers geïrriteer met sy klikbek, maar is dit dan nou so erg? Elkeen van ons wat met boeties of sussies te doen het sal weet dat dit is wat boeties of sussies doen. Op ’n stadium dra hulle stories by ma of pa aan wat maar kon gebly het.


As ons mooi na die saak kyk dan sal ons sien dat Josef nie so sleg was nie. Hy was ’n gehoorsame seun wat sonder teenpraat sy pa se opdragte uitgevoer het. Verder was hy pligsgetrou ook. Sy pa het vir hom gesê om sy broers by Sigem te besoek. Toe hy hulle nie daar kry nie, het hy moeite gedoen om uit te vind waar hulle is. Hy het nie tou opgegooi nie. En wat het daarvoor gekry? Hy is as ’n slaaf verkoop. Ons kan ons maar net indink hoe bang en benoud hy moes gewees het. Dink maar net hoe dit vir ’n sewentienjarige seun moes gevoel het om alleen daar op die slawemark as slaaf verkoop te word. In Gen. 42 v 21 hoor ons hoe benoud hy was:
“Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie.

Tog gaan dit nie net sleg met Josef nie. In Gen. 39 v 2 hoor ons:
2 Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly.
3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag

 

Dit het so goed gegaan dat Josef die hoofslaaf geword het in Potifar se huis. Josef was in beheer van die hele huishouding en die Here het die huishouding geseën. Ek skat as mens ’n slaaf moet wees dan is dit nogal waar mens wil wees.


En net toe dit begin goed gaan met Josef kom die volgende probleem. Potifar se vrou begin by hom aanlê. Ten spyte daarvan dat hy op ’n mooi manier vir haar gesê het dat dit verkeerd is, het sy aangehou daarmee. (Vgl. Gen. 39v10)


Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.
Arme Josef. Hy is al weer onskuldig in die moeilikheid want die uiteinde daarvan is dat Potifar se vrou hom aangekla het. Weereens het sy kleed hom in die moeilikheid laat beland net soos die vorige keer wat sy jas wat sy pa vir hom gegee het hom in die moeilikheid by sy broers laat beland het, het sy jas wat Potifar se vrou gegryp het, weereens gesorg dat hy in die moeilikheid is.


Genadiglik spring hy weereens die dood vry, want vir so ’n oortreding het ’n slaaf in daardie tyd die doodstraf gekry. Tog word Josef net in die tronk gegooi. Wat ’n droewige situasie is dit nie geliefdes? Hier sit Josef in die tronk. Net toe dit lyk of dit beter begin gaan tref die ongeluk hom ten spyte daarvan dat hy alles in sy vermoë gedoen het om reg op te tree. Hierdie teks gedeelte word dikwels voorgehou as ’n voorbeeld hoe om seksuele versoekings te weerstaan. Moenie toegee nie, vlug weg daarvan. En ja, ons moenie toegee aan seksuele versoekings nie, maar wat het dit vir Josef in die sak gebring? Tronkstraf en amper weer doodgemaak!

Hoe dikwels gaan dit nie maar met ons ook so nie geliefdes? Hoeveel keer het dit nie al gebeur dat ’n persoon wat ongerymdhede aan die lig bring sy werk verloor nie. Die eerlike persoon word gestraf en die oneerlikes leef maar net lekker voort! Ek is seker dat elkeen van ons al ’n soortgelyke ondervinding gehad het. Ek tree reg op en op die uiteinde word ek as die skuldige gebrandmerk. Potifar se vrou kom skotvry daarvan af en arme Josef moet in die tronk gaan sit! Hy kon homself nie verdedig nie. Onthou hy was ’n slaaf en slawe het geen regte gehad nie. Dit sal nie eens gehelp dat hy sy onskuld probeer bewys nie, want wie gaan nou die woord van ’n slaaf glo? Dit was sy woord teen die vrou van die hoof van die koninklike lyfwag. Hy het nie eens ’n kans gekry om sy kant van die saak te stel nie. Hy is summier net in die tronk gegooi!


En dan hoor ons die wonderlike troos van die Here in Gen. 39 v 20 en 21:
20 ........... Terwyl Josef daar in die tronk was, 21 was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind
Toe hy ’n slaaf was het ons ook gehoor dat die Here by Josef was (Gen. 39 v 2). Nou kom daar ’n ekstra versekering by. “Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind.” Dit is moeilik om die Hebreeuse woord wat met troue liefde vertaal is ten volle in een woord Afrikaans uit te druk. In die ou Afrikaanse vertaling is dit met goedertierenheid vertaal. Dit kan ook met troue verbondsliefde vertaal word omdat dit daarop dui dat dit liefde is wat die Here Homself voorgeneem het om te betoon. Dis ’n verpligting wat Hy op homself geneem het en dat Hy vasbeslote is om na te kom. Dit is voorwaar ’n besondere liefde en sorg wat die Here hier aan Josef bewys.

Hier in Gen. 39 kry ons tot vier keer die versekering dat die Here by Josef was. Dit is egter belangrik dat ons moet let daarop dat die Here hom nie uit die omstandighede geneem het nie. Hy was nog steeds ’n slaaf en nadat hy in die tronk gegooi was het hy steeds in die tronk gebly. Wat God wel gedoen het was om die omstandighede draaglik te maak. Josef het die hoofslaaf geword en in die tronk het die tronkbewaarder hom in beheer geplaas van al die gevangenes. As ons na die uiteinde van die verhaal kyk dan sien ons hoe God Josef se omstandighede gebruik het om Josef op te lei vir die groot taak wat vir hom voorgelê het. As slaaf daar in Potifar se huishouding en daar in die tronk het Josef die nodige vaardighede aangeleer sodat hy in staat kon wees om Egipte onder die Farao te regeer.

Die Here was met Josef. Die Here is met ons ook. In Mat. 1 v 23 sê die Here vir ons:
“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Jesus Christus het as mens aarde toe gekom. Hy het ’n vervloekte kruisdood gesterf en bange Godverlatenheid verduur sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Na sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek as Trooster en Helper gestuur sodat ons nooit weer alleen sal wees nie.

Soms beland ons ook onverdiend in die tronke van die lewe. Ek sit in ’n doodloopstraat by my werk. My drome lê aan skerwe en niks wil uitwerk nie. ’n Huwelik wat nie wou werk nie. Hier sit ek eensaam en alleen op my oudag met my kinders wat ver van my af is. Die Here is met ons geliefdes. Hy neem ons nie noodwendig uit die omstandighede uit, maar Hy dra ons daardeur. Alhoewel Josef in beheer geplaas is van die gevangenis, was hy nog steeds in die tronk. Hy is as sewentienjarige seun vir ’n slaaf verkoop toe en hy het eers op dertige jarige ouderdom uit die tronk gekom.


Die Here haal ons nie noodwendig uit slegte omstandighede uit nie, maar Hy dra ons daardeur na iets beter. Soms kan dit ’n lang tyd neem, maar ons weet dat God besig is om ons voor te berei vir iets beter. In sommige gevalle is die iets beter eers in die volgende bedeling wanneer ons ewig saam met God gaan wees sonder hartseer, trane pyn of dood. Daarom geliefdes, hou vas aan die hoop want ons weet dat GOD MET ONS IS WANNEER DIT GOED GAAN EN DAT HY ONS DRA WANNEER ONS SWAARKRY.
Amen

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Genesis 3:2 21
  • Bybelboek Genesis
  • Voorgestelde liedjies & musiek

    Lof-Psalm Ps. 9 v 1 & 7 (OAB)
    Na Wet Ps. 25 v 1 & 2 (OAB)
    Na Gebed Ps. 30 v 1 (OAB)
    Slotsang Ps. 34 v 1 , 2 & 5 (OAB)

  • Bronverwysings

    Gen. 39; teksverse Gen. 39 v 2 ; 20 en 21
    6 Mar. 2011 Gereformeerde Kerk Reddersburg

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
Gepubliseer in Preek
Sondag, 29 Junie 2014 00:00

toets

Toets bybelstudie buite

Aanvullende informasie

  • Bybelboek Genesis
  • Kalender (periode) Kersfees
Gepubliseer in Bybelstudie
Google+