Preek
L Radyn

L Radyn

Ouderling in Scottburgh NG Gemeente

Woensdag, 12 Junie 2019 11:26

Wat beteken dit om heilig te wees?

Sondag 5 Mei 2019: Escombe: Onderweg na Hemelvaart.

1. Voorafsang

2. Afkondigings

Goeie môre Broers, Susters en Jongmense. Dit is ‘n pragtige oggend waarvoor ons net die Here kan dank. Ek sê dit vir ‘n rede – die mense in Mosambiek het lanklaas so ‘n mooi oggend gesien, want hulle word bomenslik beproef deur siklone; een ná die ander! Maar die afgelope twee weke was vir duisende inwoners van die groter Durban gebied ook uiters traumaties vanweë vloede. Behalwe vir die bykans 100 wat gesterf het, is duisende dakloos gelaat; vernaamlik in Umlazi waar ek die laaste 20 jaar van my werksloopbaan deurgebring het. In die Scottburgh gemeente is daar 54 oumense wat eenvoudig al hulle besittings verloor het. Ons dank ons Hemelse Vader vir hulp wat van oral af ingestroom het. Ek was bevoorreg om Vrydag ‘n hele vrag lewensmiddele by die kerk in Scottburgh te gaan aflaai. Dit was geskenk deur weldoeners in Pietermaritzburg. Daar is egter steeds ‘n nood en as u enigsins hulp van watter aard ookal kan verleen, is u baie welkom om ná die diens met my te kom gesels. Klere, komberse, eetgerei en dié dergelike sal baie welkom wees.

Dit is my voorreg om u hartlik welkom te heet by vanoggend se erediens.  U kon so maklik besluit het om vanoggend liewer op die strand te gaan deurbring, of om eerder na die diens op TV te kyk.  Ek sê nie dit is verkeerd nie, maar die samekomste van die gemeente is tog soveel belangriker vir die Here.  Ons bevind ons vandag in die opmars na Hemelvaart (wat ook deesdae maar baie afgewater herdenk word in ons land).  Daarom kan ek nou vir u met oorgawe sê: “Soos ’n blaar na die grond val; soos die Umgenirivier na die see loop; soos ’n Natalse Wildevy sy takke na die winterhemel oopsprei; soos skape agter hulle oppasser aanloop – so is ons harte nou op die Here gerig.”

Donderdag, 25 April 2019 13:41

Geloofsoë

Sondag 7 April 2019: Escombe.

1. Voorafsang

2. Afkondigings

3. Verwelkoming
‘n Hartlike goeie môre aan elkeen van u hier teenwoordig. Dit was gister, (6 April 2019) presies 367 jaar gelede toe ene Jan Anthoniszoon van  Riebeeck met sy drie bootjies (Drommedaris, die Reiger en die Goede Hoop) teen Tafelberg vasgery en toe net daar gebly het. Party mense sê vandag met heelwat seer in die hart: “Ai, miskien moes hy liewer verbygehou het”. Jan van Riebeeck is gebore op 21 April 1619 in Culemborg, Nederland en het gesterf op 18 Januarie 1677 in Batawië in die destydse Nederlandse Oos Indië. Deesdae is dieselfde plek Jakarta in Indonesië. Hy was die stigter van Kaapstad in 1652, maar die belangrikste feit vir ons vanoggend is die feit dat hy ‘n Christen was. Hy was die eerste ou wat aangedring het daarop dat ‘n ouderling nie dit mag waag om sy eie preek te preek nie – hy moes iemand anders se preek aflees! Wat sal ek nou sê?

Dinsdag, 05 Maart 2019 23:06

Geloofsreaksie

1.  Voorafsang

2.  Afkondigings

3.  Verwelkoming
Die jaar 2019 het in dolle vaart afgeskop;net soos die vorige jaar en die jaar voor dit. Gelukkig het sommige van ons darem nou senior status bereik wat ouderdom aanbetref; gevolglik is ons metabolisme so effens vertraag en is dit nie meer vir ons belangrik om aan die rotresies daarbuite deel te neem nie. Ek wil amper sê: “Ai, dit is darem lekker om ‘n oumens te wees”, maar ek sal my bewustelik weerhou daarvan om dit te sê terwille van my vrou wat weier om te erken dat ons oud is.

Broers en Susters, u is ‘n iedere en ‘n elk hartlik welkom vanoggend hier in die kerk. Mag ons samesyn vir u tot groot seën wees en mag dit bydra tot die versterking van ons geloof. Dit is juis die onderwerp waaroor ons vanoggend so ‘n klompie gedagtes gaan wissel. Dankie dat u kom luister het na die boodskap gebring deur ‘n eenvoudige rustende ouderling.

Ek merk op dat sommige van ons lidmate reeds terug is van die feestyd-verlof af. Ons innige dank aan ons hemelse Vader dat julle veilig terug is – ek wil nou nie “spekvet en gesond” byvoeg nie, want dit is mos juis ‘n pluimpie wat ons dames nie waardeer nie.

Google+